‘n 14-Jarige skoolgaande leerder van Malmesbury is Maandag (12 Oktober) helder oordag in ‘n woonbuurt deur nog ‘n skoolkind met ‘n mes aangeval. Die voorval volg nadat die slagoffer glo ‘n bakleiery stopgesit het.
Volgens die Weskus-distrikpolisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich het die slagoffer omstreeks 14:30, kort nadat die skool vir die skooldag verdaag het, skoolkinders sien baklei. “Die kinders het ‘n meisie aangerand en die slagoffer wou tussenbeide tree. Hy het daarin geslaag om die bakleiery te staak en van daar af huis toe geloop. Een van die skoolkinders, wat in die bakleiery betrokke was, het die slagoffer agternagesit en hom met ‘n mes in die nek gesteek,” voeg Helfrich by.
Geen verdere inligting oor die 14-jarige aanvaller of die meisie wat glo aangerand is, is in hierdie stadium bekend nie. Die polisie kon intussen ook nie terugvoering gee op navrae rakende in watter skool die leerders is nie.
Die voorval het in Jakarandastraat in die omgewing van Wesbank plaasgevind.
Die slagoffer is kort ná die voorval van die Swartland-hospitaal na die Tygerberg-hospitaal geneem.
Volgens Helfrich word die saak deur die Paarl FCS (kinderbeskermingseenheid) ondersoek.





