Die Laerskool Swartland, in samewerking met plaaslike kleuterskole, het danksy optredes deur Oom Karoolus en Lente ’n stewige bedrag van R14 500 vir Jo-Dolphin APD, ’n dagsorgsentrum in Malmesbury vir kinders en volwassenes met gestremdhede, ingesamel.
Volgens Marcelé Bosch, ’n vrywillige bemarker by Jo-Dolphin, was dit Oom Karoolus en Lente wat die instansie genader het deur ’n gratis vertoning aan te bied as ’n poging om geld in te samel.
Die Laerskool Swartland het die projek met ope arms verwelkom en die hele grondslagfase betrek om ’n vertoning te kom kyk. Een vertoning het toe twee geraak toe kleuters van onder meer Land van Kabouters, Kammaland, Tjokkertuin, Wingerdlootjies en natuurlik ook die kleuters van Jo-Dolphin self belanggestel het om in die pret te kom deel. Vrolike sang en lyfies wat krul van die lag was die afgelope Vrydag aan die orde van die dag terwyl Oom Karoolus en Lente die kleinspan vermaak het. Volgens Geldenhuys het hulle nie verwag om so ’n groot bedrag te ontvang nie. “Ons is baie dankbaar teenoor die Laerskool Swartland en Oom Karoolus en Lente.




