Die gemeenskapsorganisasie, Sinethemba, wat tuisversorging en ondersteuningdienste bied aan plaaslike inwoners met spesiale behoeftes het Vrydagoggend (2 September) die eerste verjaarsdag van sy Happy Hearts-program vir gestremdes by die Wesbank-sportterrein gevier.
Heinelize Knoesen, Sinethemba se bestuurder, sê die Happy Hearts-program gaan oor bewusmaking vir gestremdes in Malmesbury.
Drie rolstoele is ten bate van die Happy Hearts-program tydens die vieringe aan Sinethemba oorhandig en is geborg deur Slimsun, die Rotariër-klub van Atlantis en ’n gemeenskapslid, wat anoniem wil bly.
“Ons het deesdae 33 lede wat deel vorm van die program vir volwasse gestremdes, wat deur die departement van sosiale ontwikkeling finansier word,” sê Knoesen.
Die Happy Hearts-program is op 3 Junie 2021 begin met die amptelike bekendstelling op 3 September 2021.
Knoesen sê Sinethemba Swartland is ’n holistiese dienslewering wat gesonde gebalanseerde maaltye, emosionele ondersteuning, stimulasie en tuisondersteuning bied.
Die Happy Hearts-program word die afgelope jaar deur Heylin Williams gekoördineer en het al baie hoogtepunte bereik.
“Haar passie vir gestremdes dryf haar om altyd die ekstra myl te loop om hul geluk te prioritiseer,” sê Knoesen.
Borge wat die dag moontlik gemaak het, sluit in Clicks Malmesbury, Checkers, Spar Malmesbury, die Rotariër-klub van Atlantis, Die Handelsslaghuis en Swartland-hulp-en-begrafnisdienste.
“Ander borge was ook betrokke, soos die Swartland-munisipaliteit en die Happy Hearts-lidmate Jackies Cake, Woolworths Korenvlei en Goue Jare-dienssentrum,” sê Knoesen.|. Intussen het Sinethemba Donderdag ook die laaste klomp plastiekdoppies wat oor ’n tydperk ingesamel is, geweeg in die hoop dat hulle die 450 kg-teiken sou haal om vir Willem Stuurman van Malmesbury ’n rolstoel te kry. Die teiken is egter nog nie behaal nie en die spertyd is nou verleng tot 24 September om nog doppies in te insamel. Sodra die 450 kg-teiken bereik word, sal die Sweetheart-stigting van Kaapstad dit inruil vir ’n rolstoel wat spesifiek aan Willem se liggaamsbehoeftes voldoen. Doppies kan by die volgende punte afgelaai word: Top Eiendomme of Sinethemba se kantoor in Roosstraat 4 in Malmesbury, of Donkinstraat Winkel 2 in Darling, of Sinethemba se kantoor in die Kommandogebou in Moorreesburg.





