Die 10-jarige Lihan Geldenhuys van Riebeek-Kasteel, ’n leerder aan die Laerskool Swartland, het tydens die Junie-skoolvakansie met sy sierduiwe aan die Suid-Afrikaanse Sierduif-vereniging (SASV) se kampioenskapskou, wat in Bloemfontein gehou is, deelgeneem.
Hier is Lihan as die junior kampioen op die skou aangewys.
Wat hierdie geleentheid besonders gemaak het, is dat hy aan die nodige vereistes voldoen het en tydens die prysuitdeling sy nasionale erekleure (groen baadjie) ontvang het.
“Lihan het al van tweejarige ouderdom af baie tyd saam met sy oupa, wat ook self ’n kranige duiweboer is, in die duiwehokke deurgebring,” vertel sy ma, Nicolene Geldenhuys, met trots.
“Dus is ’n liefde vir die sport al vroeg by hom gekweek. Lihan se passie en entoesiasme vir sy duiwe is aansteeklik. Sy liefde vir sy duiwe kan die beste gesien word waar hy by die huis tussen sy duiwe in die hokke is en hy kan duif uitwys en met enigiemand wat ’n gewillige oor het, gesels.”
Lihan het eers drie jaar gelede sy eie duiwe begin teel met sy oupa as mentor en toe ook aan skoue begin deelneem. Vanweë sy leergierige geaardheid het hy gou baie kennis van sy duiwe opgedoen en het tans vier rasse waarmee hy skou: Old German owls, Mookee’s, American Show racers en Working homers
Om aan ’n skou deel te neem is die hoogtepunt in sy kalender. Lihan is van kleins af al ’n bekende gesig in skousale.
“Streekskoue word elke jaar gehou en jy moet aan soveel as moontlik deelneem om punte bymekaar te maak. Elke keer as jou duif wen (kampioen-duif) of tweede (reserwekampioen) is, kry jy een punt,” vertel Lihan.
Hy het hierdie jaar aan die Wes-Kaap- en Noord-Kaap-streekskoue deelgeneem. Hy neem gewoonlik aan vier streekskoue per jaar deel.
“Jy moet as junior 12 punte altesaam hê om vir jou nasionale erekleure te kwalifiseer. Hy het dus in drie jaar sy 12 punte bymekaargemaak,” verduidelik Nicolene.





