Lincoln Pasquallie, een van Villagers se slotte, rank hoog vir die bal. Hy word ondersteun deur sy spanmaats Emil Moses en Gershrick Didloff. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Villagers Montagu het Saterdag (8 Oktober) ’n uiters teleurstellende rugbyseisoen op sy tuisveld op ’n hoë noot afgesluit toe hy Touwpark van Touwsrivier 50-8 afgeransel het.

Villagers was in ’n vernietigende bui en het ’n voetpaadjie uitgetrap na Touwpark se doellyn namat hy na willekeur agter die besoekers se doellyn gaan kuier het.

Die tuisspan het die besoekers oordonder en nie minder nie as agt drieë ingeryg, waarvan sy spoedvraat-regtervleuel, Beon Hartnick, twee gedruk het. Hartnick het ook met ’n doelskop geslaag.

Villagers se ander driedrukkers was Ulfred Terblanché (agsteman), Marco Moses (buitesenter), Devon Espin (linkervleuel), Bradley Jumaat (plaasvervanger-stut), Tyronne Fortuin (buitesenter) en Linzé Jansen (plaasvervanger-flank).

Handré Ontong, wat moses vervang het nadat dié ’n besering opgedoen het, het vier doelskoppe oorgeklits.

Vir die eerste keer in ’n baie lank tyd het Villagers se voorspelers werklik oorheers en in die proses maalvleis van Touwpark se voorhoede gemaak. Die tuisspan het bykans alle fasette van die spel oorheers.

Hy het die besoekers veral in die skrums behoorlik laat les opsê, maar in die lynstane het dit nog soms gelol. Omdat die tuisspan voorlangs die septer geswaai het, het die agterlyn maar min van die bal te siene gekry. Maar wanneer die bal wel sy weg na agter gevind het, het die manne agterlangs ook amok gemaak.

Touwpark het manmoedig bly baklei, maar die oormag was eenvoudig te groot. In die tweede helfte het sy losskakel, Loumario Nel, met ’n strafdoel geslaag en later in die wedstryd het Kyle Jacobs (agsteman) ’n onverdoelde drie gedruk, maar dit was inderdaad ’n tevergeefse stryd vir die manne van Touwsrivier.

Met hierdie oortuigende sege het Villagers se sukkelende rugbyseisoen genadiglik tot ’n einde gekom. Die span was baie gelukkig om die promosie en relegasie-spook om die bos te kan lei en behou sodoende sy grootuitdaagbeker-status.

Ongelukkig vir Touwpark wag die gevreesde vlymskerp lem van die relegasie-valbyl op hom, aangesien hy laaste geëindig het. Ingevolge die Boland-rugbyunie se reëls gaan sy kop as grootuitdaagbekerspan waarskynlik rol, want die span wat laaste in dié kompetisie eindig, word outomaties na die laer streekuitdaagliga afgeskaal.. Intussen het Montagu-klub sy plek in die Top-12-uitspele verseker toe hy Young Hamiltons op Esselenpark-stadion in ’n spannende laaste ligawedstryd met een nekele punt (21-20) getroef het.

Die ander Top-12-verteenwoordiger uit die Breë-Langebergstreek is die streekwenner, Robertson Rangers, wat in sy laaste ligawedstryd 34-32 teen Swellendam verloor het.

Rangers, wat soos Montagu ’n besonderse goeie rugbyjaar beleef het, het reeds voor die Swellendam-stryd vir die Top-12 gekwalifiseer. Dus het die nederlaag teen Swellendam geen bedreiging vir hom ingehou nie.

Rangers het in die topposisie met 76 ligapunte vir die seisoen geëindig met Montagu tweede met 75 punte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article