‘n Vergadering wat geroep is om veediefstal in die omgewing van Malmesbury hok te slaan, is besig om vrugte af te werp.
Dit volg sedert verskeie voorvalle van veediefstal sedert die begin van Julie vanjaar in dié omgewing hoogty vier, volgens polisiewoordvoerder sers. Henry du Randt bevestig.
Die Malmesbury-polisie se dekkingsgebied sluit meer as 350 plase en kleinhoewes in. Verskeie landbouprodusente naby die dorp bedryf onder meer ook veeboerdery met skaap, bees en pluimvee. Die belangrike rol wat die omliggende landbouprodusente in die volhoubaarheid van die plaaslike gemeenskap en dié van voedselsekerheid in die land vervul, is dus deur plaaslike rolspelers uitgelig om aksie teen dié vermeende veediewe te bring.
“Weens die toename in veediefstal en die negatiewe finansiële uitwerking wat dit op elke individu se lewensbestaan het, is op 5 Augustus ‘n vergadering tussen die Swartland-munisipaliteit en ander belanghebbendes belê,” het Du Randt bygevoeg. Die vergadering is deur lede van die plaaslike veediefstaleenheid, landbouprodusente, wetstoepassers en verteenwoordigers van die Swartland-veiligheidsforum bygewoon om veediefstal in dié gebied aan te durf.
‘n Aksieplan is gedurende die vergadering ingestel oor hoe en wanneer veediefstal in Malmesbury en in omliggende gebiede bestry moet word. Die plan was skaars ingestel toe veediewe die daaropvolgende aand – op 6 Augustus – op die plaas Bakenfontein toegeslaan het in ‘n poging om skape te steel. As deel van die aksieplan is wagte in diens gestel, wat gou vrugte afgewerp het.
Veediewe het op 13 en 14 Augustus probeer om altesaam 40 merino-ooie ter waarde van R330 000 by ‘n nabygeleë plaas te steel. “Volgens Du Randt is drie verdagtes kort daarna deur die plaaslike polisie vasgetrek en in hegtenis geneem. Hoewel een verdagte daarin geslaag het om weg te kom en steeds op vrye voet is, is al die ooie teruggekry.”
Die drie verdagtes, wat reeds vir vorige veediefstalvoorvalle voor die hof verskyn het en op borgtog vrygelaat was toe die volgende pogings van diefstal voorgekom het, bly nou in aanhouding. Hulle sal na verwagting op Maandag 25 Augustus weer in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Volgens die polisie het die inhegtenisneming hernude hoop en vertroue deur landbouprodusente, landelike gemeenskappe en sakelui in wetstoepassers se vermoë om misdaad in die kiem te smoor, geplaas. Alle rolspelers wat aan die optrede deelgeneem het, is vir hul professionele optrede en toewyding tot die bekamping van veediefstal bedank.
Die aksieplan sluit verder ook optredes teen die betrokke kopers van die gesteelde vee in, wat sal bydra tot die stryd teen veediefstal.




