Borg van R20 000 is aan ’n sakeman van Malmesbury toegestaan wat van poging tot moord beskuldig word. Die verdagte het na bewering verlede Sondag (1 Desember) in die vroeë oggendure verskeie kere op lede van die polisie se eenheid vir openbare orde geskiet.
Die voorval het by ’n nagklub in Wesbank, wat glo aan die verdagte behoort, plaasgevind.
Die 39-jarige man wat na bewering op ’n landgoed in Malmesbury woon, is kort ná die voorval deur speurders van die plaaslike polisiekantoor in hegtenis geneem, het sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.
Die beskuldigde het verlede Maandag (2 Desember) in die plaaslike landdroshof op aanklagte van poging tot moord verskyn, waartydens borgtog aanvanklik geweier is. Hy was sedertdien in die Medium A-gevangenis in Malmesbury aangehou.
Die verdagte het gister (9 Desember) weer in die hof vir ’n borgaansoek verskyn nadat hy deur middel van sy prokureur ’n formele aansoek gebring het.
’n Mede-beskuldigde het op dieselfde aanklagte van poging tot moord voor die hof verskyn. Dié 33-jarige verdagte is verlede Sondag deur die betrokke speurders aangekeer nadat hy glo ook by die skietery op die onluste-polisie betrokke was. Hy was gister op sy beurt op borg van R10 000 vrygelaat.


