Die Malmesbury-sakekamer het verlede week ’n ooreenkoms met die SA Poskantoor gesluit waarvolgens sakelui weer die gebou op eie koste kan skoonmaak. Malmesbury se landbouvereniging het vroeër al hierdie taak op sy skouers geneem en sal nou weer hierby betrokke raak. Gesprekke is ook gevoer oor die beveiliging van die omgewing rondom die posbusse, stukkende ruite wat onlangs deur Glasfit Malmesbury vervang is en die poskantoorgebou wat vanweë sy ouderdom onder die reëls van die Erfenisstigting val. Malmesbury Veiligheid het toestemming verkry vir die aanbring van veiligheidskameras om veral nagtelike wanpraktyke in die omgewing te beperk. Bosch Services sal eersdaags die gebou kosteloos skoonspuit, waarna die projek verder in fases sal voortgaan. Die sakekamer-bestuur glo hierdie gebou in die dorpskern moet netjies en veilig gehou word, al voer die SA Poskantoor aan dat hy nie geld vir instandhoudingswerk het nie. Op die foto by verlede week se vergadering is Janus le Roux, Riaan de Jager (SA Poskantoor), Brian Siebritz, Lennard van Wyk en Petri Bosch. Foto: Johan Retief

Credit: SYSTEM

Sakekamer maak poskantoor weer mooi

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article