’n Geliefde en trotse inwoner van Malmesbury groet.

Nicolaas Rust (82), beter bekend as oom Klasie Rust van Malmesbury, het is verlede Saterdag (21 Januarie) oorlede.

“Die Here het sy stuk stil dinamiet kom haal,” beskryf sy dogter Hendrien Swanepoel haar pa se afsterwe.

Rust, wat ’n raadslid was, het in 1979 by die destydse Malmesbury-munisipaliteit ingeval en in 2016 as Speaker van die Swartland-munisipaliteit afgetree. Hy het tussen 1979 en 2016 onder meer die ampte van uitvoerende burgemeester, onderburgemeester, burgermeesterslid en speaker beklee. Hy sal egter vir soveel meer onthou word as die getroue en lojale lid van die plaaslike munisipaliteit en sy gemeenskap.

Rust is op 19 Mei 1940 as ’n blonde blouoog-seuntjie gebore, deel Swanepoel in ’n huldeblyk was sy namens die familie geskryf het. Min wetend sou hy later ’n massiewe impak op sy geliefde Malmesbury en Swartland asook talle mense hê, maar nooit op ’n aanmatigende of oordonderende manier nie, vertel sy.

“Die enigste seun van NJA sr. en Hendrien Rust was die argetipiese plaaskind. Toe dit tyd word vir skool en koshuis, het hy krokodiltrane gehuil oor sy hond en ander diere wat hy moes agterlaat. Nietemin het hy goeie en opregte vriendskapsbande op skool gesmee en was in sy noppies om laat verlede jaar nog sy 65ste matriekreünie te kon help reël en vier.

Rust is ná matriek Stellenbosch toe. As Simonsberger het hy die graad BSc Landbou verwerf. Met dié kwalifikasie agter sy naam het hy die beroepswêreld betree en help bou aan die destydse Bokomo Voere.

In sy persoonlike lewe het sake ook nie stilgestaan nie. Rust het Sondae in die NG Moederkerk in Malmesbury ’n stylvolle laerskooljuffrou in die sygalery opgemerk. Hy en Elize het later amptelik deur gemeenskaplike vriende ontmoet en die liefde het begin blom. Dié syfer- en wetenskapman het hom in die emosiebelaaide wêreld van die Van der Merwes bevind, en hy het meesterlik aangepas.

Hulle is in Desember 1966 getroud en het die volgende 11 jaar hul gesin tot ’n kroos van vier uitgebrei. Die pa het met ’n huis vol kleintjies boonop verdere studies aan Unisa aangepak en sy BCom-graad verwerf.”

Sy loopbaan by Bokomo Voere het van krag tot krag gegaan en hy is later as hoofbestuurder aangestel,” vertel Swanepoel met trots. Hy het diep spore getrap en in 1995 in dié hoedanigheid afgetree.

“Bokomo was egter nie sy enigste passie nie. Toe ’n vakature in die laat jare sewentigs – die tydperk voor voltydse stadsraadslede – in die munisipale raad ontstaan, het ’n kollega my pa oorreed om hom vir die tussenverkiesing beskikbaar te stel. Hy is verkies en so het ’n byna 38 jaar lange loopbaan in die plaaslike politiek begin, waaronder vier jaar as onderburgemeester, 13 jaar as burgemeester en vier jaar as speaker van die raad van die Swartland-munisipaliteit. Terselfdertyd het hy die SM in die raad van die Weskus-distriksmunisipaliteit verteenwoordig.

Sy toegewyde diens en onkreukbare rekord het hom in 2009 raadsheerskap in die Swartland-munisipaliteit én in 2010 by die WKDM besorg.

“Jou bydrae in die raad was vir die gemeenskap, nie vir ’n party, faksie of jou eie sak nie,” deel Swanepoel haar trots teenoor haar pa. Daardie ingesteldheid het Rust tot sy laaste raadsvergadering in 2016 behou en hy het allerweë groot respek afgedwing.

Ná sy uittrede uit die plaaslike politiek was hy nog ’n paar jaar aktief deel van gespreksgroepe vir die dorp. Toe Elize se gesondheid later erg verswak, het hy haar welstand eerste geplaas en alle aktiwiteite gestaak om voltyds tuis te wees en sy nuwe rol met oorgawe vervul: Hy was hul ‘brekfismaker’, kruidenierswarekoper en nutsman. Hy het in die huis en tuin gewoeker en terselfdertyd op hoogte van dorp-, land- en wêreldsake gebly. Met Elize se hospitalisasies en kort verblyf in die siekeboeg het geen besoektyd verbygegaan wat CK 683 se wiele nié gerol het om langs haar bed te wees nie. Hy het met deernis toegesien sy vrou van 54 jaar kry die heel beste sorg en hy het getrou bakkies jellie en vla, vrugte en sjokolade aangedra en het die geselser geword toe Elize nie meer kon nie. Haar afsterwe in 2020, nes dié van sy oudste dogter, Tillita, in 2009, het ’n leemte gelaat wat hy nooit behoorlik in woorde kon vasvang sonder dat die blou oë begin swem en die stem kraak nie.

Swanepoel vertel haar pa het vir baie jare ’n gesonde lewe ervaar totdat allerhande skete begin inskop het.

Sy familie eer sy nagedagtenis en nalatenskap. Hy het sy kinders dikwels gemaan om ’n reguit paadjie te stap. “Dit was nie leë woorde nie; hy het dit immers self by uitstek gedoen.”

Sy pligsgetroue leefstyl, wyse woorde en staaltjies sal nooit vergeet word nie.

“Sy ja was sy ja, en sy nee sy nee. Jy sou my pa nooit ongeskeer, onversorg of verslons sien nie. Uitspattig­heid en oordaad het hom laat skaamkry. Hy kon nie onverskilligheid met geld verduur nie. Hy het nooit grootgepraat of gespog nie. Hy was ook nie ’n man vir titels nie. Vir die meeste mense was hy gewoon ‘oom Klasie’. Hy het ook g’n tyd vir ’n skinderstorie gehad nie. Hy het die kuns geken om eerder stil te bly wanneer ander vuur spoeg. Hy het eerder probeer vrede maak wanneer ander op die oorlogspad was. Bowenal het hy sy Skepper getrou, in eenvoud en met ’n kinderlike geloof gedien. Ons hoor hom steeds sê: ‘My kindjie, stap jy net jou paadjie reguit.’ “Dis reg, Pa, ons sal. Dankie.”

Die Swartland-munisipaliteit het die afgelope week ook sy medelye uitgespreek. “Sy toewyding aan sy gemeenskap was onberispelik en sy jare lange diens sal met trots en dankbaarheid onthou word. Ons medelye aan sy familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”

Klasie Rust laat sy dogter Hendrien, twee seuns, Ansius en Nicolaas, en skoon- en kleinkinders agter. Die familie bedank die gemeenskap van Malmesbury en die distrik vir elke boodskap, telefoonoproep en besoek. “Pa was op sy heel gelukkigste as hy besig kon wees met munisipale- en gemeenskapsake. Om ’n Swartlander te wees, was vir hom ’n saak van trots; om die dorp en omgewing se mense te dien, was ’n voorreg. Tot onlangs nog het Pa trots vertel van elke skoon oudit van die munisipaliteit, dienslewering wat werk en die dorp wat aanhou vooruitgaan. Dankie, Swartlanders, dat julle hom oor dekades toegelaat het om te doen waarvoor hy so lief was.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article