’n Inwoner van Malmesbury is onlangs ’n verkeersboete vir die oortreding van ’n padverkeerswet opgelê, maar hou voet by stuk dat geen wet oortree is nie.
Sohrub Oosthuizen is op 24 April omstreeks 17:00 deur plaaslike verkeersbeamptes van die Swartland-munisipaliteit in Magnolialaan, Wesbank, voorgekeer en ’n boete van R1 500 opgelê nadat hy volgens die wetstoepassers daarin versuim het om by ’n stopstraat, wat hulle gemonitor het, te stop.
“Ek weet dat ek wel gestop het en voel waarlik verontrief dat ek valslik beskuldig word van ’n oortreding wat ek nie begaan het nie.”
Oosthuizen beweer hy is daarvan beskuldig dat hy nie op die hoek van Wilger- en Magnolialaan gestop het nie. Volgens hom het hy aan die betrokke verkeersbeampte verduidelik dat hy wel agter die stopstreep gestop het en vorentoe moes beweeg weens struike en plantegroei wat na bewering sy sig belemmer het. Hy voer aan dat dit onmoontlik is om verkeer vanaf Wilgerlaan op die hoek van Wilger- en Magnolialaan te sien sonder om effens vorentoe te beweeg.
“Dit is onmoontlik om agter die stopstreep te stop sonder om daarna bietjie vorentoe te beweeg ten einde aankomende verkeer te visualiseer.”
Oosthuizen het vir die verkeersbeampte gevra waar hulle in Wilgerstraat was toe hulle sien hy stop nie by die betrokke stopstraat nie. Die beampte het volgens hom nie op sy vraag gereageer nie.
“Gaan kyk self. Hoe op aarde kon die verkeersbeamptes dan van die bopunt van Wilgerstraat sien dat ek die stopteken verontagsaam het?”
Oosthuizen voer aan dat die belemmerde sig weens die oorgroeide plantegroei in die toekoms ongelukke kan veroorsaak.
Die verkeersdepartement se hoofbestuurder, Roman Steyn, het volgens Oosthuizen op sy skriftelike klagte rakende die betrokke verkeersbeamptes gereageer. Volgens die verkeershoof se skrywe is die Swartland- verkeer-en-wetstoepassing se rol en mandaat die toepassing van munisipale ordonnansies en om padveiligheid te bevorder.
“Die verkeer -en wetstoepassingsbeamptes doen daagliks alles in hul vermoë om ’n veilige omgewing vir alle inwoners van die Swartland te verseker en gee uitvoering aan hul taak onder moeilike omstandighede,” lui die terugvoering.
Steyn het in sy terugvoer aan Oosthuizen stappe voorgestel om sy onskuld te bewys, wat onder meer insluit dat Oosthuizen die reg het om sy saak in die hof te betwis en die reg het om vertoë te rig.
“Die boete is die eerste stap ná . . . ’n [beweerde] oortreding en dit is ook nie die finale stap nie. Boetes kan ongelukkig nie deur die administrasie teruggetrek word nie. Ná uitreiking word dit ’n hofproses,” verduidelik Steyn in sy skrywe aan Oosthuizen.
Drie beamptes was op dié dag teenwoordig, sê Oosthuizen.
Oosthuizen het ’n skrywe met sy klagtes oor die belemmerde sig aan die munisipaliteit en aan die Swartland Gazette geskryf.
Die munisipaliteit het in hul terugvoer aan die Gazette gesê die skuld of onskuld van die oortreder gaan nie bespreek word nie.
“Daar is ’n wetlike proses wat gevolg moet word en wat aan die betrokke inwoner beskikbaar is indien hy/sy nie saamstem met die boete wat opgelê is nie.
“Inwoners kan ’n vertoë rig aan die verkeersdepartement en kan die vertoë gebruik as deel van die hofproses. Inwoners het die reg om hul saak in die hof te betwis.”
(Hofdatum aangebring op boete).
Scholtz verduidelik verder rakende die plantegroei in dié spesifieke saak het die munisipaliteit die eienaar versoek om aandag daaraan te gee.
“Hierdie plante is op private eiendom en is die verantwoordelikheid van die eienaar. Inwoners is verantwoordelik om toe te sien dat hul tuinplante nie verkeer of padtekens belemmer nie. Indien die Parke-afdeling klagtes ontvang – hetsy van die publiek, wetstoepassing of ander munisipale afdelings soos reiniging – snoei die munisipaliteit die plante en word die koste van die eienaar verhaal.”
Oosthuizen het sowat ’n jaar gelede – op 13 April 2023 – sy bekommernis oor die oorgroeide plantegroei wat motoriste se uitsig op die hoek van Wilger- en Magnolialaan belemmer en die veiligheidsrisiko’s betrokke daaraan, in ’n skrywe aan die munisipaliteit gedeel. Oosthuizen erken dat die plante kort daarna vir twee agtereenvolgende kere teruggesnoei is.




