Foto ter illustrasie. Foto: André Damons


Gewapende rowers wat op ’n sakeonderneming toegeslaan het, het hul rieme teen die Darling-polisie styfgeloop.

Drie mans en twee vroue is laat Vrydagaand in hegtenis geneem nadat hulle glo by ’n gewapende rooftog by Darling Liquor City betrokke was.

Ses mans het die drankwinkel omstreeks 19:55 binnegekom. Twee het vuurwapens gehad. Die eienaars en personeellede is vasgebind terwyl R74 937 uit die kasregisters gesteel is. Drank en selfone is ook gesteel.

Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder sers. Johnatan Filander het die verdagtes te voet in die veld agter Darling Romery gevlug, wat tot ’n oor-en-weer-skietery tussen die voortvlugtiges en die polisie gelei het. Die rowers het ’n rooi Kia bereik en daarmee gevlug, maar is later deur die polisie voorgekeer.

Die vermeende rowers se inhegtenisneming is met behulp van Darling- Landelike Beskermingseenheid, plaaslike veiligheidsbeamptes, Community in Blue, Swartland-wetstoepassers en die K9-eenheid van Vredenburg suksesvol uitgevoer.

Vier van die vermeende rowers is nog met van die geld op vrye voet. Slegs R5 000 van die gesteelde geld is gevind. Die polisie het op een 9mm-vuurwapen beslag gelê.

“Die verdagtes sal eersdaags in die Malmesbury-landdroshof verskyn sodra hulle formeel aangekla word. Hul ouderdomme wissel tussen 23 en 45 jaar,” voeg Filander by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article