AO André van Eeden, ondersoekbeampte wat met sy vernuftige speurwerk gehelp het om die veroordeelde rower agter tralies te kry. Foto: Norman Evertson


Norman Evertson

Vasberadenheid, deursettingsvermoë en goeie speurwerk het daartoe bygedra dat ’n 39-jarige man wat ’n bejaarde in Junie 2016 wreed aangerand en beroof het, vandag veilig agter tralies sit.

Dié gewelddadige voorval het sowat sewe jaar gelede in Montagu – Sondag 26 Junie 2016 – plaasgevind. Cornelius Samson (39) en sy saamleefmaat van destyds, Mina Saaiman (33), het Piet Swanepoel (87) in sy woning in Graafstraat, Montagu-Wes, oorval, aangerand en beroof.

Samson het die slagoffer met ’n hamer oor die kop geslaan, waarna hy en Saaiman die beseerde slagoffer na die slaapkamer gedwing en aan die bed vasgebind het.

Nadat Samson-hulle kaste en laaie omgedolwe het, het hulle die slagoffer se beursie en R300 geneem en later uit die dorp gevlug.

Die erg beseerde Swanepoel, wat alleen gewoon het, het daarin geslaag om homself los te wikkel en hulp te ontbied.

Speuradjudantoffisier André van Eeden van die Montague-polisie is destyds as die ondersoekbeampte aangewys.

Buiten vingeradrukke wat op die toneel gevind was, was leidrade maar skaars en die verdagtes toe nog onbekend, sê Van Eeden.

Sy ondersoek het hom in ’n stadium na Hermanus gelei, maar sonder enige sukses.

Die twee verdagtes is egter later deur ’n vasberade Van Eeden op Riviersonderend opgespoor en in hegtenis geneem.

Van Eeden sê die saak het op ’n tydstip byna ontspoor toe dit verskeie kere uitgestel is en in ’n stadium selfs van die hofrol verwyder is, maar gelukkig het die reg sy gang gegaan.

Samson, ’n boorling van Hermanus, is op 14 Februarie in die Montagu-streekhof op drie aanklagtes – huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede, poging tot diefstal en poging tot moord – skuldig bevind.

Hy is verlede Woensdag (1 Maart) tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die drie aanklagte vir vonnisdoeleindes saamgevoeg is.

Die hof het voorts gelas dat die beskuldigde se naam ingevolge die toepaslike wetgewing in die nasionale register vir ouer mense aangeteken word.

Die hof het ook beveel dat die familie van die slagoffer, wat intussen oorlede is, in kennis gestel moet word wanneer die beskuldigde vir parool in aanmerking kom.

Samson se mede-beskuldigde, Mina, is reeds op 20 September 2017 ná ’n pleitooreenkoms met die staat vir haar aandeel in die misdrywe tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article