Die Rotariërs het dit weer gedoen – dié keer al die pad uit Australië – nadat volledige speelparkapperate en klimrame aan plaaslike Rotariërklubs in die Wes-Kaap geskenk is.
Twee van die sowat 12 speelparkapperate wat per skeepsvraghouer na Suid-Afrika ingevoer is, het na die Riebeek Vallei Rotariërsklub gegaan, wat dit op sy beurt aan behoeftige organisasies soos Goedgedacht, ’n organisasie sonder winsbejag, geskenk het.
Die plaaslike Rotariërsklub het die nuwe speelpark by Goedgedacht se Path Out of Poverty-jeugsentrum op Riebeek-Wes Maandag 22 Mei geopen. Die geleentheid is deur verskeie organisasies sonder winsbejag in die Vallei bygewoon. “Hul toewyding tot die welstand van die jeug binne ons gemeenskap was deurslaggewend in die daarstelling van die speelpark, wat nog hope pret en glimlagte vir baie kinders wat in die toekoms by die jeugsentrum gaan aansluit, sal bring,” sê Valerie Govender van Goedgedacht.
Dez Jansen van die Vuya Foundation, wat die nuut geopende New Rest Valley-kleuterskool op Riebeek-Kasteel saam met die Rotariërs van Pinelands en Nuweland moontlik gemaak het, was ook teenwoordig noudat een van die klimrame nou by daardie kleuterskool pronk. “Die ruimte was aanvanklik te klein, so groot is die speelpark wat aan die kleuterskool geskenk is,” sê hy met dankbaarheid.
Goedgedacht se uitvoerende hoof, Deon Snyman, verduidelik hoe destydse behuising in Australië voorsiening gemaak het vir kinders deur speelparke te bou. Namate die inwoners ouer geword en die kinders die huis verlaat het, het die klimrame en speelparke later geen nut meer gehad nie. Die Rotariërs in Australië het toe besluit om die speelparkapperate op te pak en na die Rotariërs op eie bodem te stuur. “En een daarvan is nou by ons,” voeg hy by. David Riley en Rodney Tredea van die plaaslike vallei se rotariërsklub het die speelpark reeds in Februarie vanjaar ontvang, aanmekaar gesit en by die POP-jeugsentrum staangemaak.
Volgens Riley is dié sentrum gekies omdat sekuriteit goed is, maar ook omdat ’n groot behoefte aan ’n veilige speelpark daar bestaan het. Die sentrum sien daagliks sowat 20 leerders hoewel byna 70 daar geregistreer is.
Volgens Sonwabo Lumko van die Valley Community Collective, ’n netwerk wat verskillende gemeenskapsorganisasies in die Riebeek Vallei verteenwoordig, is dit belangrik vir plaaslike organisasies om saam te werk om daadwerklik ’n verskil te maak. Hy het dié geleentheid as ’n ware voorbeeld van sukses beskryf.





