Route2Roots-jeugteater het pas na wyk 3 in Riebeek-Wes uitgebrei.
GreenAct International en UNI Jeug Koöperatief, in samewerking met raadslid Nicolene Smit, ’n raadslid van wyk 3 vir die Swartland-munisipaliteit, het die produksie Roseline bekendgestel.
Die produksie is Vrydag 24 Junie opgevoer.
Chantal Booyse is die produksiebestuurder en Jurgen Mc Ewan die kreatiewe direkteur. Mc Ewan het ook ’n solo-produksie, Akkie, dieselfde aand aangebied.
Altesaam 18 lede van die jeug-gemeenskap tussen 14 en 24 jaar was deel van die produksie.
Smit sê sy is trots op die wyk se kinders wat so getrou geoefen het en gedissiplineerd en kreatief was.
“Hulle trotseer lang ure in repetisies en is trots op hulself. Hul selfvertroue het met rasse skrede verbeter. Hierdie produksie was ’n uitvloeisel van die aktiewe burgerskap- en uitvoerende kunste-werksessies wat in 2019-’20 deur die Swartland-munisipaliteit se jeugontwikkelingskantoor in al die wyke aangebied is,” vertel sy.
Sy sê ook hierdie produksie was die eerste van vele, want ’n volhoubare program gaan ontwerp en uitgerol word om die jeug se talent te ontwikkel en hulle verder aan die bedryf bloot te stel.



