Van links staan AK Warnick (burgemeesterskomiteelid vir veiligheid), Ryno van Harte (Swartland Brandweer-departement), Rowena van Wyk ( Wes-Kaapse rampbestuur), Roysten Harris (Hoof van Swartland se brandweerdepartement), Phillip Humphreys (direkteur: beskermingsdienste), Bronwin Adams (brandweer) en Katriena Ntlayi, met Joggie Scholtz (munisipale bestuurder) heel agter en Anet De Bee (onder burgemeester van die Swartland) heel voor.. Foto: Verskaf


Die Swartland-munisipaliteit het onlangs ’n groot stap geneem om die veiligheid van kwesbare gemeenskappe te verseker deur 1 705 rookalarms uit te deel.

Die inisiatief streef na die bevordering van veiligheid in hoë-digtheidsgebiede en informele nedersettings waar die uitwerking en gevolge van ’n brand verwoestend van aard kan wees, luidens ’n verklaring wat onlangs uitgeruik is.

Die rookalarms is moontlik gemaak deur ’n skenking van R500 000 deur die Wes-Kaapse-regering. Aanvullende finansiering van nog R926 000 het voorsiening gemaak vir ’n nuwe brandweerwa, wat op sy beurt in Maart volgende jaar gereed sal wees.

Die munisipaliteit het gedurende die geleentheid sy dankbaarheid teenoor die provinsiale regering vir sy volgehoue ondersteuning ten opsigte van brandbestryding in die streek uitgespreek.

“Rookalarms is ’n kritieke eerste stap vir optrede teen verwoestende brande,” het die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, bygevoeg. “Dit dien as ’n vroeë waarskuwingstelsel wat uiteindelik lewens kan red en eiendom kan beskerm – veral in hoëdigtheidsgebiede waar die risiko vir die verspreiding van ’n brand hoog is.”

Die alarms het onder meer ’n batterylewe van 10 jaar en aktiveer onmiddellik sodra rook in die omtrek is.

Die aktivering van die alarm sal bure en omliggende inwoners betyds kan waarsku, lui die verklaring.

Volgens die munisipaliteit sal die rookalarms spoedige optrede verseker deur die nodige ontruiming van strukture en persele in die omgewing teweeg te bring terwyl die brandweer-afdeling reeds van die brand in kennis gestel is.

Die munisipaliteit het op sy beurt ’n verdere R250 000 vir die aankoop van nog rookalarms gegee, omdat die daarstelling van veiliger gemeenskappe die grootste voorkeur vir die munisipaliteit is.

Die munisipaliteit bly ten volle in vertroue dat die provinsiale regering sal voortgaan om hom in hul strewe tot ’n veiliger streek te ondersteun. “Saam kan ons veiliger omgewings vir al ons inwoners bou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article