Die Swartland-brandweer is verlede Dinsdagmiddag (25 April) omstreeks 17:06 na die N7 ontbied nadat ’n voertuig naby die plaas Môreson aan die brand geslaan het.
Die Swartland-munisipaliteit het by navraag gesê die brandweer is dadelik gemobiliseer en het om 17:21 op die toneel gekom. Verkeersdienste was reeds op die toneel. Met die brandweer se aankoms was ’n 1-ton-Kia-afleweringsvoertuig in vlamme gehul. Die voertuig het toiletpapier vervoer. Die drie insittendes het veilig uit die voertuig geklim en geen beserings is aangemeld nie.
Volgens die voertuigbestuurder het die brand by die voertuig se enjin begin. Rook het terwyl hy bestuur het, onder die enjinkap uitgeborrel. Hy het aan die beamptes gesê hy het van die pad af getrek, waarna al drie insittendes veilig uit die voertuig kon ontsnap.
Die brand is teen 19:07 onder beheer gebring en die voertuig is weggesleep.

