Die munisipale wetstoepassingsdiens van die Swartland het binne die afgelope ses maande op nie minder nie as 191 klagtes oor honde binne die streek gereageer.
Dié inligting is deur die munisipaliteit bekend gemaak nadat verskeie klagtes van ongelukkige asook bekommerde inwoners oor die groot hoeveelheid rondloperhonde in die strate van veral Darling, Riebeek-Wes en Moorreesburg aan die lig gekom het.
Een inwoner van Darling was onder meer net so bekommerd oor die groot aantal honde wat op een erf aangehou word en nie die nodige sorg ontvang nie.
Die aanhou van honde binne die Swartland- munisipale gebied word deur die munisipale verordening oor openbare oorlaste gereguleer, het die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, op navraag verduidelik.
“Volgens die verordening mag daar nie meer as twee honde op ’n perseel aangehou word sonder toestemming van die munisipaliteit nie,” brei hy uit. Die verordening beheer onder meer ook tot sake soos hondetelers en kan op die munisipale webblad gevind word.
Volgens die munisipale verordening word rondloperhonde as ’n openbare oorlas beskou en is dit die verantwoordelikheid van die munisipale wetstoepassers om dit te takel.
“Die munisipale wetstoepassers gee daagliks aandag aan klagtes oor honde en dit word dan tydens patrollies hanteer. Die munisipaliteit werk ook saam met die dierebeskermingsvereniging en hou gereelde optredes waar rondloperhonde geskut word en waar eienaars wat sukkel of onwillig is om vir hul diere te sorg, gevra word om vrywilliglik hul diere aan die DBV te oorhandig.” Wetstoepassers werk ook nou saam met die DBV met die sterilisasie van troeteldiere, voeg hy by.
Bedrywighede rakende honde word ook elke maand in wetstoepassing se maandelikse verslae aan die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid aangemeld. Van Januarie tot Junie het wetstoepassers op 191 klagtes oor honde gereageer
“Altesaam 93 rondloperhonde is in dieselfde tydperk geskut. Ongelukkig veroorsaak die aanhou van troeteldiere dikwels sonde met die bure. Troeteldiere is ’n groot verantwoordelikheid en daarom wil ons inwoners aanmoedig om bewus te wees van hul troeteldiere se gedrag en hoe dit jou bure kan beïnvloed.”
Die munisipaliteit doen ’n beroep op inwoners om troeteldiere te steriliseer om die probleem te voorkom.
Die plaaslike bestuurder van die Swartland- en Weskus-DBV, Louise van Zyl, het hul meegevoel teenoor inwoners uitgespreek wat bekommerd is oor rondloperdiere in hul omgewing. Sy is dit eens dat die verantwoordelikheid van die rondloperdiere die verantwoordelikheid van munisipale wetstoepassing is soos uiteengesit deur die munisipale verordening oor openbare oorlaste.
“Die munisipaliteit is daarmee getaak om rondloperdiere af te haal en hulle na ons te bring vir behandeling en die nodige optrede. Weens die beperkte personeel en hulpbronne kan ons nie die skut van die diere namens die munisipaliteit uitvoer nie.”
Van Zyl het benadruk dat dit die DBV se primêre mandaat is om seker te maak die dierebeskermingswet word toegepas, asook om na die welstand van diere binne hul jurisdiksie om te sien.



