Solidariteit Helpende Hand het onlangs ’n tak in Robertson gestig en aangedui ’n groot behoefte bestaan vir ’n netwerkforum in die gemeenskap.
“Verskeie organisasies en instellings sonder winsoogmerk is in die gebied en verrig wonderlike werk, maar dié gemeenskappe is nie bewus van mekaar nie. Daarom is besluit om ’n netwerkforum op die been te bring, want om nood in ’n gemeenskap die hoof te bied, is dit belangrik dat ’n gemeenskap weet wat ander rolspelers doen. Sodoende kan ons mekaar ondersteun, sterker word en ’n groter verskil maak waar ons betrokke is,” sê Alisha de Lange, Helpende Hand se streekorganiseerder van die Wes-Kaap.
Helpende Hand het onderneem om die stigting van dié forum te fasiliteer.
Die geleentheid vind op 17 Augustus om 17:15 in die raadsaal van Robertson Wynmakery by Constitutionstraat 1 in Robertson plaas.
Helpende Hand se hoofbestuur uit Pretoria gaan die geleentheid bywoon om die proses saam met gemeenskapsleiers en die plaaslike Helpende Hand-tak in Robertson te help fasiliteer.
“Ons nooi alle gemeenskapsleiers na hierdie byeenkoms uit, asook individue wat deel is van organisasies sonder winsbejag of met hul eie ondernemings wat hulp verleen aan mense in beroepe soos terapeute, onderwysers en predikante. Hierdie geleentheid is uit die gemeenskap vir die gemeenskap om Robertson te bevorder,” sê De Lange.. Kontak De Lange by 082 923 1438 of Anke Beeslaar, Helpende Hand Robertson se takvoorsitter, by 076 828 6382 vir nog inligting.




