Philip Jonker (Weltevrede-landgoed) oorhandig die Pon Van Zyl-trofee aan Tommy Loftus (regs). Die trofee word elke jaar gegee aan iemand of ’n instansie wat al ’n paar jaar groot werk in die Breërivier-omgewing verrig en tot ’n groot mate tot die ontwikkeling en vooruitgang in die vallei bygedra het.


Een van die Robertson-wynvallei se bekendste en mees geliefde wynpersoonlikhede is vanjaar se ontvanger van die gesogte Pon van Zyl-trofee, die prys wat jaarliks aan iemand wat ’n vername bydrae in die plaaslike wynbedryf gelewer het, toegeken word.

Tommy Loftus het diep spore in die Robertson-wynbedryf getrap nadat hy aanvanklik as wynmaker by Weltevrede en Rooiberg gewerk het.

Philip Jonker van Weltevrede, wat die trofee tydens ’n spog-geleentheid by Tebaldi’s in McGregor oorhandig het, het Tommy vir sy kundige wetenskaplike benadering tot wynmaak, sy geweldige kennis en gevoel van wat dit verg om die beste wyn uit die wingerd te kry, asook sy mentorskap aan ander wynmakers, geprys.

“Tommy, jou invloed, jou nederige karakter en jou vaardigheid rakende alle aspekte betreffende wyn, is vir ons as jonger wynmakers iets wat altyd van jou onthou sal word,” het Philip gesê. “Wat ons van jou onthou, is iemand wat altyd die glas halfvol sien – ’n optimistiese mens met ’n geweldige positiewe gesindheid. Nie net is ons deur jou kundigheid geïnspireer nie, maar ook jou optimistiese geaardheid en dat jy van voor lei met jou stil en sterk manier – iets wat uiters belangrik is in die wynbedryf. Wyn gaan nie net oor kundigheid en wetenskap nie, maar oor die geaardheid van mense wat die beste uit hierdie edele produk van ons na vore bring.

“Jy is voorwaar ’n verdienstelike ontvanger van die Pon van Zyl-trofee, wat nou ook jou naam dra, tesame met van die legends van die Robertson-wynbedryf.”

Loftus span deesdae sy kundigheid in by Ever, die Italiaanse firma wat verskeie kelder-produkte vervaardig en versprei.

“Hierdie is ’n groot eer,” het Loftus by die ontvangs van die trofee gesê. “Al wat ek kan sê, is dat Robertson se wynmense een groot familie is, en dit is ’n trots om deel daarvan te wees. Ek voel geweldig bevoorreg om hierdie eer te ontvang.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article