Robertson se Ferisco Adams, wat tans vir die SA20- Paarl Royals-span speel, maak op die ouderdom van 33 steeds sy stem dik op die krieketveld. Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images


Op 33-jarige ouderdom is die Robertson-krieketspeler Ferisco Adams steeds besig om van krag tot krag te gaan.

Adams geniet tans ’n baie goeie SA20-toernooi, waar hy die paaltjies vir sy span, die Paarl Royals, behoorlik laat kantel.

Die Royals het die Pretoria Capitals Sondag met die hulp van Adams se boulwerk geklop en is nou met 17 punte derde op die SA20-punteleer. Dit was die Paarlse span se derde sege in die reeks.

Adams het die belangrike paaltjie van die Capitals se Rilee Rossouw geneem deur hom skoon te boul – net toe dit begin lyk het of Rossouw ’n groot beurt sou speel. Adams het ook daartoe bygedra dat Theunis de Bruyn se sessie beëindig is toe hy deur Wihan Lubbe uigevang is.

Adams se dae van krieket het as jong seun op die Vaderblad in Robertson begin, waar hy by vlakkiekrieket betrokke was. Hy was op laerskool sowel as hoërskool ’n uitmuntende speler en is in die Noord-Boland-span opgeneem.

Die Robertson-krieketklub lê hom steeds na aan die hart, want dit is hiér waar sy talent deur die Bolandse afrigter Barney Mohammed raakgesien is.

As jong speler is hy twee keer as Krieket SA se Suid-Afrikaanse plattelandse krieketspeler van die jaar vereer.

Sedert klubkrieket het Adams, ’n regshandige bouler sowel as kolwer, sy vlerke gesprei en vir Boland en die Cape Cobras gespeel. Hy het ook ’n Engelse draai gemaak, waar hy vir die Cherry Tree-krieketklub in Manchester gespeel het.

Ondanks dié prestasies het Adams nog nie vergeet waar sy wortels lê nie en hy het steeds noue kontak met sy geliefde Robertson-krieketklub. Wanneer hy tyd het, rig hy jong opkomende spelers in sy tuisdorp af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article