Die uiters gesogte SA Terroir-trofee vir die topwyn uit al die inskrywings van alle style en kultivars is vanjaar aan ’n vyf jaar oue Cabernet Sauvignon uit Stellenbosch toegeken.
Dié wyn is die Alto Cabernet Sauvignon 2018. Hierdie landgoedwyn is as die algehele wenner aangewys uit die 264 wyne wat vir die eksklusiewe SA Terroir-wynpryse beoordeel is.
Die 2023- SA Terroir-wynpryse se toppresteerder met die meeste hoëgehalte inskrywings is Rietvallei-landgoed in Robertson, wat daarmee ook die meeste beste landgoed-geproduseerde wyne opgelewer het.
Rietvallei het nie net die SA Terroir-trofee vir die topprodusent verower nie, maar ook die derde jaar agtereenvolgens met die trofee vir die toplandgoed weggestap.
Hulle het twee nasionale wenners opgelewer, naamlik die Rietvallei JMB Cabernet Franc 2019 en die top- rooi versnit, die Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc 2019, asook ses terreinwenners in die Robertson-distrik.
Terselfdertyd kom vanjaar se beste enkelwingerdwyn uit die Elgin-wynterrein in die Elgin-distrik – ’n houtverouderde Chardonnay.
’n Enkelwingerdwyn is die mees ware uitbeelding van ’n terrein-gedrewe wyn uit ’n spesifieke grond en klimaat.
Altesaam 66 enkelwingerdwyne is vanjaar beoordeel en die SA Terroir-trofee vir die topenkelwingerdwyn is aan die Almenkerk Chardonnay 2020 toegeken.
Dat die unieke Kaapse wynland wêreldwyd met die mees veelsydige topgehalte wynterreine kan pronk, is vanjaar weer eens by die 18de SA Terroir-wynpryse beklemtoon.
Die SA Terroir-trofee vir die beste terrein is aan die Malmesbury-wyk in die Swartland toegeken. Die grootste bydrae hier was van Arbeidsgenot-wyne in Riebeek-Kasteel (deel van die Malmesbury-wyk) wat drie nasionale wenners opgelewer het.
Dit was Arbeidsgenot se eerste deelname aan dié spogkompetisie, waar sy minder bekende kultivars uitgeblink het, naamlik die Arbeidsgenot Grenache Blanc 2022, Roussanne 2022 en Verdelho 2022.
Die vyf SA Terroir-wynprys-trofeë wat toegeken is, het vanjaar uit vier verskillende wynterreine in die Kaapse wynland gekom: Malmesbury, Robertson, Stellenbosch en Elgin.
Die nasionale wenners van al die style en kultivars het hul oorsprong uit meer as 15 terreine in die Kaapse wynland en sodoende werklik die verskeidenheid van terroir-gedrewe wyne beklemtoon.
“Die diversiteit van ons wyngebiede is weer eens by vanjaar se SA Terroir-wynpryse bewys,” het Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), gesê.
“Gehalte is die hooftema van beoordeling en dit is insiggewend om elke jaar te sien watter terreine uit hierdie baie spesiale wynland die beste van watter kultivar en styl lewer.”
Altesaam 35 wyne het die hoogste standaard-punte behaal om as nasionale wenners aangewys te word.
Plaaslike kelders van Breedevallei, die Breederivier en Witzenburg, wat pryse gewen het, is: . Cabernet Franc 2019 Rietvallei . Cape Style 2017 Stettyn Family Vineyards Cape Vintage. Chenel 2021 Springfontein Terroir Selection Chenel (gehout). Chenin Blanc 2021 Bergsig Patmos Chenin Blanc Reserve (gehout). Grenache 2020 Saronsberg Grenache. Lae alkohol Rosé NV Slanghoek Vinay Vin Rosé. Mourvèdre 2020 Saronsberg Mourvèdre. Muskadel 2015 Nuy Barbiri Idro Barrel Matured Red Muscadel. Rooi versnit: 2019 Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc. Viognier 2022 Deetlefs Signature Viognier
Vanjaar se beoordelaars was Jeff Grier (voorsitter) en ’n Kaapse wynmeester van Villiera; Elunda Basson, ’n keldermeester van Steenberg; Conrad Louw, gereelde lektor by die Kaapse Wynakademie en ’n Kaapse wynmeester; Anton Swarts, senior wynmaker by Spier en ’n Kaapse wynmeester; en Janine van Zyl, ’n gekwalifiseerde sommelier wat tans met haar Kaapse wynmeester-studies besig is.


