Hulle is jonk, energiek en kunstig en bring die beste na hul konserte.
Daarbenewens is hulle (b)raaf genoeg om hul verhoognaam te verander.
RAAF, voorheen bekend as Bottomless Coffee Band, kom op Lentedag terug Swartland toe met ’n splinternuwe aanslag en hul Prediker-toer – nuut; sonder om enige van hul positiewe energie in te boet.
Inteendeel . . .
Lourens en Esté Rabé lok reeds jare lank propvol gehore.
“Ons sien met hul Prediker-toer ’n nuwe, vars aanslag, al bly hul genre min of meer dieselfde,” verduidelik die plaaslike kunstenaar Christine Swart.
Christine, beter bekend as Kirky van Kirkwood, is die laaste 11 maande RAAF se openingskunstenaar met haar voetdrom en kitaar. “Die liedjies en hul energie is (nog) nuwer en veel meer van hul eie kuns het bygekom. Lourens moes lank probeer voordat hy Esté kon oortuig om meer van haar gedigte in hul konserte te gebruik.”
Tydens Prediker-konserte lees Esté nou een van haar nuutste gedigte en verkoop die geraamde gedig daar en dan – elke keer ’n nuwe gedig. “Ons sit dit vooraf op ekstra-fyn papier en raam dit in hout, en verkoop daardie enkele weergawe. Dis ’n absolute treffer. Al meer mense – oud en jonk – wil graag ’n unieke Esté RAAF-gedig teen hul mure hê.”
Die naam RAAF kom van Lourens se van, Rabé, wat in Duits verwys na ’n raaf (raven – ’n sang- en boodskappervoël wat net een lewensmaat kies, en ook soos die RAAF-groep, kan leer, ontwikkel en altyd pret hê).
Christine sê sy het hierdie talentvolle sangpaar ’n jaar gelede genader om hul openingspeler te wees. Groot was haar vreugde toe hulle haar nooi met ’n “Kom klim in die bus en toer saam met ons – dis al manier waarop jy gaan leer”.
Intussen het sy ook hul bemarkingsbestuurder geword.
Wil jy graag die wintersblues verdryf? Loer gerus op Kalmoesfontein se webwerf, want nadat hierdie wyn- en kuierplaas die hele nat winter nie hul gewilde pizza-en-konsert-aande kon aanbied nie, begin Kalmoesfontein nou met ’n positiewe en aansteeklike RAAF-konsert op 1 September.
Gaan Lourens en Esté (B)RAAF genoeg wees om weer op die tafels te dans?





