Die Langeberg se 8-Ball Pool-ligaspelers van Robertson het in Junie aan die senior SA kampioenskap in Saldanhabaai deelgeneem.
Altesaam 14 spelers van Langeberg het in die verskillende afdelings deelgeneem, naamlik o.14-, o.18- en vier o.23-spelers. Die kampioenskap was baie straf met goeie spelers uit verskeie provinsies. Altesaam 10 provinsies het aan die kampioenskap deelgeneem.
Langeberg- 8 Ball Pool se o.14-span het baie goed gevaar en in die vierde plek geëindig terwyl die o.23-span ook met ’n vierde plek tevrede was. Dit was albei spanne se eerste keer dat hulle in die SA kampioenskap deelgeneem het.
Wat die enkelspel betref, het een van 8Ball se o.14-spelers, Breyton Geduld, die kwarteindronde gehaal, maar ongelukkig vasgeval. In die o.23-afdeling was dit weer eens die SA speler Gerovan Otto wat sy teenstanders een vir een kantlyn toe gestuur het.
Gerovan Otto en Ventino Biegenaar, albei van die Kaapse wynlande en boonop van Robertson, het mekaar in die halfeindstryd gepak.
Al die toeskouers se oë was op hierdie twee spelers gerig.
Gerovan se potspelgedagtes was te oop en hy het Ventino die knie voor hom laat buig – hy het Ventino met ses punte teenoor nul geklop en sommer goed met hom afgereken. Gerovan is sodoende deur na die enkelspel-eindronde, waar hy teen Marcelino James van Ikapa te staan gekom het. Ongelukkig moes Gerovan met die prys as naaswenner tevrede wees, maar hy het nogtans met ’n pragtige SA trofee en prysgeld huis toe gekom.
Die organiseerder, Gerald Otto, was tevrede met alle fasette van Langeberg 8-Ball Pool se spel en het die skeidsregters van Langeberg- 8-Ball Pool, Desmond Prins en Imran Michaels, vir hul harde werk met al die spelers verrig het.





