Die Swartland-K9-honde-eenheid is deur Reagen Allen, die minister van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, geprys vir hul flink optrede tydens ’n onlangse padblokkade op die Klipheuwelpad in Malmesbury.
Dit volg nadat die K9-beamptes K. Abrahamse en A. Swelindawo tesame met hul snuffelhonde Loftus en Nina Woensdag 29 Junie op 500 dagga-”bankies” (banksakkies) met ’n geskatte waarde van R10 000 beslag gelê het.
Altesaam 18 beamptes – sewe polisiebeamptes, vier K9-beamptes en sewe verkeer- en wetstoepassings-beamptes het twee taxi’s by die padblokkade opgemerk wat ’n ent voor die padblokkade stilgehou en ’n U-draai gemaak het. Die polisiebeamptes het onraad vermoed en die bussies agternagesit en hulle terug na die padblokkade begelei. Die taxi’s is toe deur die K9-eenheid deursoek, waarna die dagga ontdek is.
Boetes is dieselfde dag aan vier ongelisensieerde bestuurders uitgereik, nog drie vir die vervoer van passasiers sonder ’n professionele vervoerpermit (PDP), een vir openbare vervoer sonder ’n bedryfslisensie en een vir die bestuur van ’n motor sonder die toepaslike lisensie vir die betrokke voertuig.
“Hierdie sukses is presies waarom ons die K9-eenheid in die Weskus-distrik het,” sê Allen.
“Tot nou het die Wes-Kaapse regering reeds die eenheid met oor die R13 miljoen gefinansier. Die hoofdoel van die eenheid is om ondersteuning en hulp aan die polisie en ander rolspelers met die opsporing en soeke na smokkelware, ploftoestelle, vuurwapens en ammunisie te bied, en dit het Woensdag afgespeel vir almal om te sien,” het Allen gesê. “Ek wil my opregte dank aan die Swartland-burgemeester, Harold Cleophas, die onderburgemeester, Anet de Beer, die burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste, Albert Warnick, en wetstoepassingsbeamptes vir hul uitstekende werk om nie net ’n veiliger Swartland te skep nie, maar ’n hele Wes-Kaap, uitspreek. Dit is ’n groot oorwinning vir die gebied aangesien dit verseker dat minder dwelms by gemeenskappe ingebring word. Ek vertrou dat die verdagtes die volle mag van die gereg sal deurgaan.”





