Die polisie doen ’n beroep op die inwoners van veral Yzerfontein om paraat te wees wanneer dit by die beveiliging van hul huise kom.

Volgens sers. Johnatan Filander van die Darling-polisie is die polisie bekommerd oor huise wat nie deeglik gesluit word nie – dít nadat veral Yzerfontein die afgelope twee weke erg deur ’n vlaag huisbrake en rooftogte getref is. “Vensters word op ’n skrefie oop gelos, deure word nie gesluit nie en alarmstelsels word nie geaktiveer nie.”

Indien inwoners nie diefwering het nie, waarsku die polisie hulle om ekstra paraat te wees deur vensters behoorlik toe te maak en seker te maak alle deure is gesluit.

“Dit is die seisoen vir huisinbrekers. Hulle kom nou om geld te maak.”

Volgens die polisie is die neiging tans dat rowers nie noodwendig meer TV-skerms en groot toerusting steel nie, maar eerder duur en waardevolle artikels soos byvoorbeeld juwele en selfone. “Hulle is nou op soek na eiendom wat hulle maklik kan dra terwyl hulle vlug.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article