Intense patrollies is onlangs deur die Malmesbury-veediefstaleenheid in samewerking met verskeie rolspelers van stapel gestuur nadat meer as R500 000 se vee oor die afgelope maand as gesteel aangemeld is.

Só sê sers. Henry du Randt van die Malmesbury-polisiekantoor luidens ‘n verklaring wat Maandag 21 Julie uitgestuur is.

Talle landbouprodusente in die Swartland en omliggende dele van die Weskus het die afgelope drie weke onder erge vee-diefstal deurgeloop. In die Darling-omgewing is die karkas van ‘n Angus-bees gekry nadat dit op die plaas geslag is. ‘n Klagte is ook aangemeld weens altesaam 19 koeie wat daarby saam gesteel is.

‘n Skaap en agt hoenders is op hul beurt in die Riebeek-Wes omgewing as gesteel aangemeld. Altesaam 120 skape is reeds op verskeie plase in en om Malmesbury gesteel. Dit sluit sowat 54 merino-ooie in, wat tussen Maandag 14 en Dinsdag 15 Julie van net een plaas af verdwyn het.

“Die veediefstaleenheid in Malmesbury, wat die sake hanteer, vermoed ‘n sindikaat is waarskynlik in die omgewing bedrywig,” voeg Du Randt by. Volgens hom is niemand nog in hierdie stadium met betrekking tot die diefstalle aangekeer nie.

In die Weskus is 25 skape in die omgewing van Nuwerus gesteel terwyl twee skape by die Lutzville-polisiekantoor as gesteel aangemeld is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article