Twee verdagtes, wat met die besit van onwettige dwelms en dwelmhandel verbind word, is die afgelope Donderdag deur lede van die Moorreesburg-polisie in samewerking met die Swartland-K9-eenheid in hegtenis geneem.
Volgens AO Nicolette Visagie, ’n woordvoerder van die Moorreesburg-polisie, is voertuie gedurende ’n roetine-ondersoek in Langstraat nagegaan.
Toe die bestuurder van ’n voertuig sy lisensie aan die betrokke beampte oorhandig, is plante op die passasiersitplek gewaar. Ná verdere ondersoek is Khat-plante in die voertuig ontdek.
Nog ’n verdagte voertuig is kort daarna voorgekeer. Die bestuurder, wat verdag voorgekom het, is later as ’n bekende dwelmhandelaar geïdentifiseer.
Ná verdere ondersoek is 50 Mandrax-tablette met ’n straatwaarde van R4 000 in die verdagte se besit gevind.
Polisiebeamptes het die twee verdagtes van onderskeidelik 31 en 53 jaar oud weens die besit van onwettige dwelms en dwelmhandel in hegtenis geneem. Die twee het gister (Maandag 18 September) in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.
Lt.kol. Bertus Conradie, stasiekommissaris van Moorreesburg-polisie, het die polisiebeamptes en beamptes van die Swartland-K9-eenheid vir hul deeglike werk geloof.
In nog ’n voorval is twee verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle aan ’n gewapende rooftog verbind was.
Die plaaslike polisie in Moorreesburg is die afgelope Donderdag na Hooikraal ontbied nadat die verdagtes omstreeks 13:00 glo ’n inwoner beroof het. Gemeenskapslede het die verdagtes agternagesit en hulle in ’n nabygeleë veld aangehou totdat die polisie op die toneel aangekom het.
Die polisie het die verdagtes met behulp van die inwoners weens gewapende roof in hegtenis te neem. ’n Mes is by een van die verdagtes aangetref.
Die slagoffer is van sy selfoon en geld beroof en het geen ernstige beserings opgedoen nie. Die verdagtes het gister in die landdroshof in Moorreesburg verskyn.
Die polisie het gemeenskapslede van Hooikraal bedank vir hul bydrae wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes gelei het. Hulle het ook ’n beroep op inwoners gedoen om hul eie veiligheid eerste te stel.





