Roland Tenn wys van die beserings wat hy opgedoen het. Foto:


Roland Tenn (62) en nog drie mans, wat almal in Wesbank, Malmesbury, woon, is na bewering omstreeks middernag op 17 Desember 2023 glo deur sowat 16 lede van die polisie se eenheid vir openbare orde (POP) gewelddadig op die perseel van sy woning aangerand. Sy een dogter en kleindogter was ten tyde van die voorval teenwoordig en angsbevange gelaat.

Tenn, ’n pensioentrekker wat steeds deeltyds van die perseel van sy huis af paneelklopper- en spuitverfwerk doen, is in die middel van die nag deur ’n ander inwoner, wat by hom woon, wakker gemaak. Dié het gesê polisielede staan by die hek en vra dat die hek vir hulle oopgemaak word. “My reaksie was dadelik dat die hek oopgemaak moet word as dit die polisie is,” vertel Tenn ontsteld. Toe Tenn uitgegaan het om oop te sluit, het hy die gevloek en kru taal van die polisielede gehoor toe hulle op hom en sy huismense geskree het om oop te maak.

Tenn het nie die sleutel van die hek by hom gehad nie en een van die ander inwoners gevra om die sleutel te kry, wat gelei het tot verdere aggressie en kru taalgebruik deur die polisie. “Hulle het die lelikste taal gebruik,” dink hy terug.

Die polisielede wat volgens Tenn almal gemasker was, het al vier mans kort daarna begin slaan en klap nadat hulle toegang tot sy perseel gekry het. Tenn en Christo Beukes (42) is die ergste aangerand. Volgens hom het hulle later op die grond gelê terwyl die polisie hulle aanhou slaan en trap het. “Hulle het ’n plastiekstoel op my kop gebreek,” voeg hy ontsteld by. “Dit was opsetlike aanranding.”

Tenn sê die polisie het geen lasbrief of redes waarom hulle daar was, aangebied nie. “Hulle het hulle ook nie geïdentifiseer nie en ook nie eens my huis geskut nie.” Volgens hom het hulle op ’n tydstip slegs gevra waar “die pille” is en kort daarna weer gery. “Ons het op die vloer bly lê van die pyn. Ek het geen idee gehad waarvan hulle praat nie.”

Tenn sê die groep polisielede, wat wel almal in uniform was, het met ’n ongemerkte bussie daar aangekom. “Daar het Paarl Boland op die uniforms gestaan.” Volgens Tenn was hy oortuig dat van die polisielede van die Malmesbury-polisie af was.

Beukes en Tenn was genoodsaak om mediese behandeling te ontvang nadat hulle ook ’n klagte by die plaaslike polisie aangemeld het. Tenn se arm was erg geswel terwyl ’n rugwerwel ook gedurende die aanval beseer is. Beukes is deur die polisie na die plaaslike hospitaal geneem.

Volgens Tenn word wonings in die omgewing die afgelope twee maande reeds deur die POP besoek waartydens geweld glo dikwels aan die orde van die dag is. Die POP het ook in die verlede al ’n paar keer op Tenn se woning toegeslaan, maar volgens hom is niks gekry nie.

“Hoe kan dit toegelaat word? Vat my tronk toe as jy iets kry, maar moet my nie aanrand vir geen rede nie.”

Tenn en Beukes het tot nou nog geen terugvoer oor hul saak van die polisie of die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) gekry nie.

Sers. Hennie du Randt, ’n woordvoerder van die Malmesbury-polisie, het bevestig dat Tenn ’n klagte van aanranding aangemeld het wat tans deur die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word. Volgens du Randt kan die polisiekantoor nie enige kommentaar lewer oor ’n saak wat deur Opod ondersoek word nie.

Du Randt voeg ter verduideliking by dat die POP ’n nasionale komponent van die SAPD is en onder die afdelingskommissaris van die operasionele reaksiedienste (ORS) val. Elke provinsie het sy eie bevelvoerder wat die hoof van operasionele dienste is.

“Wanneer die POP in ’n spesifieke gebied kom werk, lig hulle gewoonlik nie die plaaslike polisiekantoor in oor wat hulle gaan doen nie, aangesien hulle hul eie operasionele pligte het. Dit sal in die meeste gevalle intelligensie gedrewe misdaad wees.”

Wanneer inwoners van die publiek deur lede van die SAPD aangerand word, kan so iemand ’n klagte van aanranding by die polisie aanmeld. Die sake sal geregistreer en aan Opod gestuur word om verder ondersoek te word. Alle sake teen polisielede word deur Opod ondersoek, ongeag aan watter polisiekantoor of eenheid die polisielid verbind is.. Navrae oor die ondersoek is aan Opod gestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article