Petro van der Merwe, die kunstenaar agter Artefects23 Fine Art, en haar groepie studente het hul heel eerste kunsuitstalling Saterdag 26 November gehou. Die geleentheid was ’n groot sukses en die oogmerk is om dit moontlik ’n jaarlikse instelling te maak.
Petro het al langer as 20 jaar se ondervinding in visuele kuns met ’n verskeidenheid kunsstyle- en mediums in haar portefeulje. Sy het in die grendeltyd selfs haar eie YouTube-kanaal begin om sodoende haar prosesse en ander kunswenke met die publiek te deel.
Die afgelope ses jaar het sy ook begin om kunsklasse vir volwassenes aan te bied en voel om haar kennis en liefde vir kuns met ander te deel, was bestem om deel van haar kunsreis te wees.
Sy sê haar studente werk hard en soms dwing sy hulle uit hul gemaksones.
“Maar hul entoesiasme is aansteeklik en die resultate spreek vanself!”
Verder sê sy hulle het soveel as kunstenaars gegroei en dit is ’n voorreg om deel van hierdie groepie plaaslike talent te wees.
“Hulle inspireer my om nooit op te hou om my kunshart te volg nie. En in die woorde van Vincent van Gogh: ‘I would rather die of passion, than of boredom’.”
Die uitstalling is by Malmesbury-gholfklub gehou en die spyseniering is deur Marius Foot van die Halfway House-restaurant op die landgoed behartig.





