Piketberg is deur die nasionale regering vir die omvattende kleindorpse herlewingstrategie geoormerk.
’n Afvaardiging van die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake het die Bergrivier-munisipaliteit (BM) onlangs besoek met die doel om die implementering van hierdie strategie vir Piketberg te bespreek.
Hierdie projek beoog om ruimtelike transformasie binne die dorp te bewerkstellig deur uitdagings wat die herlewingsproses belemmer, die hoof te bied.
Dit moet ook bepaal word hoe hierdie proses bevorder kan word om progressiewe ontwikkeling te verseker.
“Die idee is om regtig te verstaan ??wat die ontwikkelingsbehoeftes van Piketberg is, sodat ons volhoubare gemeenskappe kan bou,” sê Mario Wessels, die munisipaliteit se onderburgemeester.
“Om dit reg te kry, moet gekyk word na veiligheid, ’n ruimtelik bemagtigende omgewing, maatskaplike ontwikkeling, groen en oop ruimtes sowel as ’n inklusiewe plaaslike ekonomie, en hoe al hierdie aspekte geïntegreer kan word.”
Die Piketberg-gebiedsplan, wat op 23 Februarie verlede jaar deur die raad aanvaar is, sal die grondslag vir die implementering van die kleindorpse herlewingsprogram wees.




