Inwoners van die Swartland se harte klop nou éérs van die trots nadat die streek se eie Springbokspeler, Pieter-Steph du Toit, ná die eindstryd van die 2023-Rugbywêreldbeker in Frankryk as die Speler van die wedstryd aangekondig is.
Dit was nadat sy span ’n 12-11-oorwinning oor die All Blacks op die Stade de France in Parys beklink en geskiedenis gemaak het as die eerste span wat die Rugbywêreldbeker ’n vierde keer omhoog hou.
Du Toit het die oomblik met die oorhandiging van sy prys in die stadion as ’n groot voorreg aan kommentators beskryf en gesê dit is ’n eer om Suid-Afrika op die veld te kon verteenwoordig.
Du Toit, ’n oudleerder van die Hoërskool Swartland en ’n boorling van Riebeek-Kasteel, het ’n ongelooflike 28 duikslae teen die Nieu-Seelanders uitgevoer. Sy uitstekende spel het hom kort daarna die titel die “missiel” van Suid-Afrika se rugbyspan besorg.
Sy broer, Daniel du Toit het vanaf die familie se plaas, Kloovenburg, gesê Pieter-Steph het Maandagoggend teenoor hom erken sy lyf en veral sy skouer is nog baie seer. “Die Springbokke se oorwinning in die eindronde was egter elke duikslag die moeite werd.”
Die gevoel in die Du Toit-familie is volgens hom “die ene blydskap en dankbaarheid”.
Du Toit het reeds Maandagoggend uit Frankryk vertrek om eersdaags hul oorwinningstoer saam met sy spanlede in Kaapstad af te skop.





