Die klubrugbygemeenskap is in rou gedompel ná die skielike dood van ’n rugbyspeler op die veld tydens ’n rugbywedstryd op Mamre die afgelope Saterdag (29 Junie).
Naasif Abrahams (45) van die Vineyards-rugbyklub in die Paarl is gedurende ’n wedstryd tussen Vineyards en die Hamlets-rugbyspan, wat in Mamre naby Atlantis gespeel is, dood.
“Die Atlantis-polisie het ’n doodsondersoek geregistreer ná die heengaan van ’n speler gedurende ’n rugbywedstryd op die rugbyveld by die Mamre-sportveld in Poietstraat,” sê kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder.
“ ’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal en die ondersoek duur voort,” sê Van Wyk.
Janaid Moerat, ondervoorsitter van die Vineyards-rugbyklub, het aan die media gesê Abrahams het geen ooglopemde beserings opgedoen nie.
Abrahams kom van ’n gesin met diep wortels in Paarlse rugby. Sy oupa was ’n stigterslid van die Vineyards-klub en sy pa, Achmat, is steeds die erepresident van die klub.
“Sy dood is een van die grootste verliese by die klub nóg. Ons weet nie lekker hoe om voort te gaan nie. Dit is so skielik, maar ons weet hy sou wou hê ons moet aangaan en hom onthou,” sê Moerat.
Abrahams het gespeel, as afrigter gedien en was ’n bestuurder van die derde span by Vineyards.
Hy het in die Paarl gewoon en grootgeword en word beskryf as iemand wat deel was van die gemeenskap en wat gereeld betrokke was by liefdadigheidswerk. Hy was nie getroud nie en het nie kinders gehad nie.
Op sosiale media, veral op die verskeie Boland-klubs se Facebook-blaaie, is skok en ongeloof uitgespreek oor die dood van hierdie geliefde rugbyspeler, en boodskappe van medelye van wyd en syd is teenoor Abrahams se spanmaats en familie uitgespreek.
Abrahams se janaza (begrafnis) is reeds Sondag, 30 Junie, gehou
Hy word oorleef deur sy pa, sy broer, Niyaaz, en sy suster, Malikah.





