’n Pa en seun wat elk sy eie boek in verskillende genres bekendstel, was verlede week op die spyskaart tydens die Malmesbury-biblioteek se boekbekendstelling.
Emeritus-professor in ontwikkelingstudies Frik de Beer, voorheen van Unisa en tans van Malmesbury, het sy memoire bekendgestel.
Daarbenewens het sy seun Andries de Beer oor sy debuutbundel, Aalmoes vir die Bootman, gesels. Daniel Hugo van Turksvy Publikasies was die gespreksleier.
De Beer senior se boek Die gestaltes wat in ons aanwesig is – wording van ’n bleek Afrikaan – bied ’n blik op sy eerlike reis vanuit ’n streng Christelik-nasionale agtergrond tot waar hy sy eie, gesonder insigte kon begin ontwikkel, al beleef hy direkte teenkanting hieroor van sy pa af.
“In elke mens is meer as een persoonlikheid,” verduidelik hy. “Jou menswees is ’n lewenslange proses. ’n Mens vind dikwels ander gestaltes in jouself as wat jy aanvanklik gedink het teenwoordig kan wees.”
Covid-19 se inperkingstyd asook die skryf van die memoire het hom gehelp om antwoorde te vind oor verskeie lewensbelangrike vraagstukke.
Daniel Hugo het die boek bestempel as ’n spannings- en liefdesverhaal, nou verweef met die politieke era. Hy het ook verwys na De Beer sr. se baie navorsing hieroor. Die bronnelys beslaan ’n indrukwekkende nege bladsye.
Pa en seun werk dikwels saam aan akademiese artikels; hulle het ook verlede jaar saam ’n akademiese handboek oor ontwikkelingstudies gepubliseer. “Daar is heeltyd stories in ons huis en ons gesprekke. In beide boeke speel hierdie jarelange gesprekke ’n belangrike rol.”
Dr. Andries de Beer (met ’n doktorsgraad in toerisme), oftewel Andries van Pretoria, staan onder meer bekend as podiumdigter en tree soms by Die Boer in Durbanville op. Sy debuutdigbundel in vyf afdelings is die produk van 20 jaar se gedigte skryf, herskryf en skaaf. “Toe ek besef die boek nader publikasie en die verskillende temas moet treffend van mekaar onderskei word, het ek self die illustrasies hiervoor geskep ter inleiding van elke nuwe afdeling.”
Beide boeke is beskikbaar by Turksvy Publikasies of die onderskeie skrywers.




