Die Helpende Hand-tak in Porterville het op 16 Augustus ’n paar oupas in die Porterville gemeenskap bederf. Die dag is gereël deur die taklede van Helpende Hand en daar is besluit om die oupas uit te neem na die plaas Halfmanshof van oom Boet Immelman.
Die dag was spesiaal en is op 21 Augustus as deel van internasionale Bejaardedag gevier terwyl die hele Augustus deur Helpende Hand as ’n maand vir bejaardes hanteer is.
Die plaas is al jare deel van die gemeenskap. ’n Heerlike kuierruimte op die plaas is ingespan en die plaaseienaar het verskeie outydse plaasimplemente, huisartikels en talle ander goed, wat deel van sy museum op die plaas is, gewys.
Die oupas is met ’n heerlike vleisbraai, braaibroodjies en slaai bederf, wat met ’n heerlike nagereg afgesluit is. Daarna het die braaiers die oupas teruggeneem dorp toe. Die rit het ’n draai deur die kanolalande ingesluit sodat dit ’n behoorlike bederf in die natuur was.
Die taklede van Helpende Hand was dit eens – die dag was vir die oupas baie spesiaal, maar terselfdertyd was dit nog meer spesiaal vir diegene van Helpende Hand wat die dag kon moontlik maak en saam met die oupas kon kuier.
Vir enige navrae oor Helpende Hand en hoe jy betrokke kan raak, kontak Mariëtte Roos, die assistent-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Weskus per e-pos by marietteroos@helpendehand.co.za




