Andro Engelbrecht en Nicole Neethling is verlede Dinsdag tot die raad van Swartland Toerisme verkies. Foto: Alta Grundlingh van Winelands Pass


Plaaslike belanghebbendes en lede van Swartland Toerisme NPC het die afgelope Dinsdag met groot entoesiasme vir hul 2024-jaarvergadering byeengekom waartydens gesprekke oor die streek se ontwikkeling en toekomstige vooruitsigte gehou is.

Ashley Stone, die voorsitter van Swartland Toerisme se direksie, het by die geleentheid die belangrikheid van samewerking onder lede en belanghebbendes vir die bevordering van die streek se toeriste-aantreklikhede en toerismegeleenthede beklemtoon.

“Verhoogde toerisme is die primêre doelwit van ons NPC (’n organisasie sonder winsbejag) en [die doelwit] is wat al ons pogings in 2024 en 2025 sal lei.

“Die tyd het aangebreek om ’n kopskuif te maak en weg te breek van die idee ‘wat kan toerisme vir my doen?’,” het Stone tydens die geleentheid by die Contreberg- wynplaas buite Darling aan die gehoor gesê.

Swartland Toerisme was opgewonde om die toevoeging van Nicole Neethling en Andro Engelbrecht as lid van die direksie aan te kondig.

“Hulle is danksy hul kundigheid en vars perspektief gewaarborg om onskatbare waarde tot die organisasie te voeg,” het hy bygevoeg.

Die geleentheid het met ’n gevoel van positiwiteit en afwagting vir wat die nuwe jaar moontlik inhou, afgesluit deur die versekering te gee dat voortdurend gestreef sal word om die kollig op Swartland as ’n primêre vakansiebestemming te plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article