Inlas: Ds. Jacobus Snyders van die NG Kerk Swartland Moedergemeente op Malmesbury aan die woord kort voor die herbegrawing van die 44 oorledenes se oorskot wat met die bou van die nuwe kerksaal ontdek is. Foto’s: Charlotte Lesch


Die herbegrawingseremonie van 44 onbekendes se oorskot wat gedurende die bou van die nuwe kerksaal ontdek is, het die afgelope Sondag op die NG Kerk Swartland Moedergemeente se perseel op Malmesbury plaasgevind.

Talle gemeentelede het die spesiale geleentheid bygewoon waartydens die kis waarin al die oorskot in kompartemente verpak en verseël is, begrawe is.

Ds. Jacobus Snyders het die seremonie behartig. “Die Here kan uit dooie bene weer lewe bring en daarom is daar altyd hoop. Die kerksaal is ’n teken van hoop en beteken dat daar groei en vooruitgang in hierdie gemeenskap sal wees, ook vir ons jeug en jong mense dat daar ’n toekoms is. Ons besef nie dat daar generasies voor ons was nie. Hoewel ons nie die tyd van hierdie mense weet nie, het hulle sekerlik ook ’n rol gespeel in die totstandkoming van die gemeenskap en hierdie gemeente. Daarom is ons dankbaar. Ons sê dankie aan hierdie mense, al is hulle vir ons onbekend. Ons weet die Here ken hulle elkeen by die naam. Of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here,” het Snyders gesê, kort voor die kis in die grond laat sak is.

Anja Huisamen, student-argeoloog betrokke by die opgrawing van die grafte sedert verlede jaar April, was verantwoordelik vir die verpakking van die kis. Sommige van die porseleinknope en ander items is saam met die oorledenes in die kis gebêre. “Dit het aan hulle behoort, daarom is dit net reg dat die items saam met hulle begrawe word,” het sy verduidelik. Navorsing oor die grafte is steeds onderweg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article