Twee broers het Donderdag 1 Desember hul lewe verloor nadat hulle in ’n motorongeluk betrokke was.
Volgens die polisie het twee motors na bewering aan ’n straatren deelgeneem toe die ongeluk om 23:00 gebeur het. Die voertuig waarin die oorledenes, Angelo Wagenaar (24) en Sydwell Speelman (25), gery het, het gerol. Speelman het die motor ten tyde van die ongeluk bestuur.
“Een van die voertuie se bestuurder het beheer oor sy motor verloor. Die voertuig het deur die heining van een van die plase op die De Hoop-pad gebars en in ’n veld op die plaas tot stilstand gekom,” het Ndakhe Gwala, ’n woordvoerder van die provinsiale polisie, verduidelik.
Een van die motor se insittendes het op die toneel gesterf.
“Die ander een is na ’n plaaslike hospitaal geneem, maar het later aan sy beserings beswyk,” sê die woordvoerder.
Wagenaar is op die toneel dood en het buite die motor gelê. Speelman het later aan sy wonde beswyk.
Die bestuurder van die ander voertuig het van die toneel af gevlug en die polisie is steeds op soek na hom.
Enigiemand met inligting oor wie die ander voertuig bestuur het, word versoek om die Robertson-polisie dringend by 023 626 8359/49 te skakel en met AO Rachel Burger te praat. – Tamsyn Jantjies




