Handré Ontong, linkervleuel en stelskopper van Montagu-klub, lê aan pale toe. Ontong het ses strafdoele, een drie en ’n doelskop aangeteken vir ’n persoonlike bydrae van 25 punte en sodoende ’n groot rol in Ashton United se nederlaag gespeel. Montagu het die grootuitdaagbekerligawedstryd met 30-23 gewen. Foto: Norman Evertson


Hoewel rugby ’n spansport is en hy dit nie sonder sy spanmaats kon vermag nie, was dit Montagu-klub se linkervleuel met sy geleerde skopvoet, Handré Ontong, wat sy span in die wedstryd gehou en uiteindelik die argitek was van die aanslag wat die besoekende Ashton United se ondergang bewerkstellig het.

Ashton het verlede Saterdag, 5 Augustus, vir Montagu in ’n Grootuitdaagbekerligawedstryd op die King Edward- sportgrond gepak en die tuisspan, veral in die eerste helfte, ’n harde tyd gegee.

Montagu het weliswaar eerste punte aangeteken en vroeg die leisels geneem na twee suksesvolle strafdoele deur Ontong, wat die telling 6-0 gemaak het.

Ashton het egter hierna verwoed aangeval en verskeie stormlope op Montagu se doellyn geloods.

Die tuisspan het dodelik verdedig, maar die lenige slot van die besoekers, Mario Diedericks, het ten spyte daarvan dat Mac-John Daniëls, buitesenter van Montagu, hom voor die doellyn beetgekry het, daarin geslaag om met ’n uitgestrekte arm die bal onder die pale agter die doellyn te plaas.

Anrich Nelson (heelagter), Ashton se eie skerpskutter, het die maklike doelskop tussen die pale deurgeskop en die voortou met 7-6 aan sy span besorg.

Die besoekers se geringe voorsprong was egter van korte duur, want minute later het Ontong met sy derde strafdoel weer sy span laat voorloop met 9-7.

Montagu moes hierna met 14 man oor die weg kom omdat sy losskakel, Doné Davids, met ’n geelkaart van die veld afgestuur is.

Enkele minute later het Nelson ná nog ’n sterk aanslag op die tuisspan se doellyn byna gaan druk. Hy is egter by die hoekvlag deur Daniëls by die kantlyn uitgeduik.

Die dissipline het aan albei kante by tye maar gelol.

Ashton se linkervleuel, Zinzaan Williams, is met ’n geelkaart gestraf en kort ná hom het Montagu sy tweede geelkaart ontvang toe Jacky de Villiers ook afgestuur is.

Na De Villiers se vertrek het, het Ashton sy neus weer voor gekry toe Nelson met `n strafdoel geslaag het en die telling tot 10-9 gegroei het.

Ontong het egter die geesdriftige tuisskare laat kraai van lekkerte toe hy sy vierde strafdoel behaal en daarmee, met die telling 12-10, sy span weer die leiding laat neem.

Ashton het hierna met sy soveelste aanval vorendag gekom en David Wagenaar (binnesenter) het met ’n verdediger om sy lyf langs die pale afgerond.

Nelson het Wagenaar se drie verdoel om die telling 17-12 in die besoekers se guns te bring, met rustyd slegs enkele minute weg.

Montagu het dadelik teruggeslaan met ’n goeie aanval wat byna tot ’n drie deur Cleve Malgas (heelagter) gelei het.

Hoewel Malgas oor die doellyn was, het ’n netjiese duikslag deur Nelson verhoed dat hy die bal geplaas kon kry.

Die skeidsregter het beslis die bal is in die lug gehou en kort daarna het die rustydfluitjie geblaas met Ashton steeds 17-12 voor.

In die tweede helfte het die skeidsregter nog strafkaarte uitgepluk.

Eers het Montagu sy derde geelkaart op die lyf geloop toe sy puntemasjien, Ontong, na ’n gevaarlike hoogvat van die veld gestuur is.

Kort ná hom het Ashton se Williams sy tweede geelkaart, wat toe tot ’n rooie aanleiding gegee het, ontvang.

Dit het beteken die besoekers moes vir die res van die wedstryd met 14 man oor die weg kom, wat sake vir hulle aansienlik moeiliker gemaak het.

Minute later is die tuisspan se regtervleuel, Shanville Herder oor die besoekers se doellyn, maar ná konsultasie tussen die skeidsregter en die een lynregter, is die “drie” nie toegeken nie.

Montagu het egter kort hierna wel ’n onverdoelde drie behaal toe Ashton. wat swaar in die skrums geleef het, oor sy eie doellyn gestoot is en Brandon Beukes, kaptein en agsteman van die tuisspan, die bal agter die doellyn toegeval het.

Dit het die telling op 17-17 te staan gebring.

Nelson het sy span met sy tweede suksesvolle strafdoel weer voor gekry, maar Ontong wat die kol met reëlmaat getref het, het daarna twee strafdoele na mekaar deur die pale gestuur om sy span weer die voortou met 23-20 te gee.

Nie lank hierna nie het Nelson sake in dié armdrukstryd met sy derde strafdoel egter weer gelyk gemaak.

Maar Ontong wat sy stempel met sy indrukwekkende korrelwerk behoorlik op die naelbytstryd afgedruk het, was nog nie klaar nie.

Hy het sy voortreflike skopwerk met ’n pragdrie opgevolg én natuurlik self verdoel en sodoende gehelp om die spannende grootuitdaagligastryd uiteindelik 30-23 in sy span se guns te beklink.

Met sy persoonlike bydrae van 25 punte, ses strafdoele, een drie en ’n doelskop, was Ontong grootliks verantwoordelik vir Ashton se ondergang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article