De Zwartland Markt nooi lede van die gemeenskap om op Saterdag 26 Julie vanaf 10:00 deel te neem aan ’n dag van omgee – en pannekoeke – met sy Pannekoeke met ’n Doel-inisiatief, ten bate van die Goedgedacht Trust.
Dié organisasie verrig onskatbare werk in die streek om hoop en geleenthede vir jong mense en ander lede van plaaslike gemeenskappe te skep. Die eenvoudige, maar betekenisvolle projek bied ander die geleentheid om deel te wees van iets groter – deur eenvoudig ’n pannekoek te koop teen slegs R10. Al die opbrengs van die dag gaan direk aan die Goedgedacht Trust, sodat hulle hul gemeenskapsprojekte kan voortbou en nog meer lewens kan aanraak.
De Zwartland Markt nooi plaaslike bakkers, vrywilligers, besighede en inwoners om saam hierdie dag spesiaal te maak – of dit nou is deur ’n pannekoek te bak, te help bedien, of net ’n vriendelike gesig te bring en die kuier en gemeenskapsgees te geniet.





