Huis Thea van Niekerk, ‘n anneks van Aandskemering waarvan die bestaan destyds deur skenkers moontlik gemaak is juis vir beskostigbare verblyf vir bejaardes met dimensie en Alzheimer se siekte, is ook onder die loep. Foto: Charlotte Lesch

‘n Ondersoek is deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling van stapel gestuur nadat bekommernisse weens beweerde wanbestuur en onreëlmatighede by ‘n plaaslike tehuis vir bejaardes op Malmesbury deur gemeenskapslede onder hulle aandag gebring is.

Só het Esther Lewis, kommunikasiebestuurder vir die departement, op navraag aan die Gazette bevestig.

Volgens Lewis is die departement deeglik bewus van klagtes met betrekking tot die Aandskemering-tehuis vir bejaardes. Die departement kon slegs verklap dat ‘n ondersoek na nie-nakoming tans uitgevoer word, hoewel geen verdere inligting in hierdie stadium bekend gemaak mag word nie.

Die ondersoek kom ná ‘n storm wat sedert einde verlede jaar oor die tehuis woed toe ‘n voormalige bestuurder van Aandskemering glo onregmatig gevra is om die perseel te verlaat en hangende ‘n ondersoek geskors is. Die ACVV se nasionale direkteur, Liezel Meintjies, het by navraag gesê dat dit ‘n interne personeelaangeleentheid was wat nie met die media bespreek mag word nie. Geen bewyse rakende wandade gepleeg het tot nou nog die lig gesien nie.

‘n Verdere rede tot kommer deur lede van die plaaslike gemeenskap verwant aan inwoners van die tehuis het ook na vore gekom toe die ACVV-bestuur na bewering ‘n groot bedrag geld uit Aandskemering se beleggingsrekening getrek het. Meintjies het in haar terugvoering verduidelik die tehuis het in Desember 2024 ‘n kontantvloei-tekort op die lopende rekening gehad en ‘n bedrag is deur die tekenmagtige uit die beleggingsrekening van die tehuis na hul lopende rekening oorgeplaas.

“Hierdie geld is aangewend om die goedgekeurde bedryfsuitgawes van die ACVV Aandskemering-tehuis te betaal.”

Inwoners meen egter hierdie stap was in jare nog nooit nodig om die tehuis se maandelikse rekeninge te betaal nie.

Die gebeure het kort daarna ‘n plaaslike aksiegroep op die been gebring om bekommernisse onder die loep te neem en antwoorde van die vereniging te eis. Die Malmesbury Gemeenskapsaksiegroep (MGA) spruit uit ‘n dinkskrum wat op 14 Januarie vanjaar plaasgevind het, waarna 50 belanghebbende lede van die gemeenskap uitgenooi is. Die groep, wat uit hoofsaaklik familielede van die tehuis se inwoners, skenkers, verskaffers en belangegroepe bestaan, betwyfel die prosedures wat deur die ACVV-hoofkantoor gevolg word, asook hul motiewe daaragter, en glo dit dui op moontlike magsvergrype en wanbestuur.

Die ACVV-hoofkantoor se terugvoering op talle skrywes deur die aksiegroep is volgens MGA ontwykend en onvolledig.

‘n Vergadering met die hoofkantoor van die ACVV het op 24 Januarie by die plaaslike ACVV-dienssentrum plaasgevind, maar die aksiegroep en familielede was steeds nie tevrede met die uitkoms nie.

KUNDIGE MENSE

Teenwoordiges het boonop van die geleentheid gebruik gemaak om self as lid van die ACVV aan te sluit om beskikbaar te wees vir verkiesing op besture.

“Kundige mense uit die gemeenskap het hulself as vrywilligers beskikbaar gestel om op die besture te dien en name is aan die ACVV deurgestuur voor ‘n vergadering wat op 7 Febraurie vir ‘n verkiesing gehou sou word, maar op kort kennisgewing deur die ACVV-direkteur gekanselleer is.

“Dit is sedert die ontstaan van die ACVV ‘n integrale deel van sy doelstellings om vrywilligers by dienslewering te betrek. Vir die MGA is die voortdurende insluiting van vrywilligers uit ons dorp noodsaaklik vir toepaslike bestuur en vir beheer en beskerming van geld,” meen ‘n sameroeper van die groep, luidens ‘n verklaring uitgereik deur MGA.

Ongelukkigheid is wéér deur die aksiegroep geopper omdat die ACVV-hoofkantoor op 25 Februarie tydens ‘n ledevergadering na bewering een ACVV-bestuur vir die Malmesbury-affiliaal verkies en al die diensvertakkings daaronder ingesluit het.

Sy verduidelik dat die vorige struktuur bestaan het uit verskeiebestuurskomitees vir die onderskeie diensvertakkings soos dié vir Aandskemering, die dienssentrum vir bejaardes, asook die Amandelrug-aftreeoord.

SKRIFTELIKE GESKIL

Die ACVV-bestuur vir die Malmesbury-affiliaal is dus op daardie dag verkies nadat ‘n mosie van wantroue teen voormalige bestuurslede boonop gedurende ‘n spesiale algemene vergadering ingestel is en hulle wéér tot die nuwe bestuur verkies is. Meintjies meen die mosie van wantroue was nie regsgeldig nie en is nie volgens die geskil-besleg-voorskrifte in die ACVV-grondwet ingedien nie. “Dit moet deur ‘n ingeskrewe lid van die ACVV-affiliaal, deur die proses soos in die ACVV- grondwet voorgeskryf, as ‘n skriftelike geskil voorgelê word.

Die nuwe lede wat in Januarie om lidmaatskap aansoek gedoen en ledegeld betaal het, is uit die vergadering gehou. Meintjies verduidelik dat bestaande ACVV-lede nuwe voornemende lede kan benoem, welke nuwe lid deur die bestaande lede by ‘n ledevergadering aanvaar kan word. Lidmaatskap van die ACVV vereis dat ‘n voornemende lid die ACVV-grondwet en beleide moet aanvaar, onderskryf en hulle daarmee moet vereenselwig. “Geen nuwe lede is op genoemde vergadering deur bestaande lede benoem en voorgestel nie. Die aansoeke vir lidmaatskap wat in Januarie ontvang is, is dus nog nie bekragtig deur die proses soos deur die ACVV-grondwet en beleide bepaal nie.”

‘n Regsverteenwoordiger het luidens die verklaring in ‘n skrywe aangedui dat daar 14 lede van ACVV Malmesbury-affiliaal was. Die MGA kon geen bevestiging kry dat agt lede teenwoordig was om ‘n kworum te vorm nie. Die MGA is verder van mening dat die ACVV ‘n verskuilde agenda deur die ontbinding van die beheerliggaam van Aandskemering dryf.

SKENKER VAT R700 000 TERUG

Lede van die plaaslike gemeenskap en familielede meen die ACVV is besig om die plaaslike gemeenskap te vervreem en verwys onder meer na ‘n skenking van R700000 wat kort ná die skielike ontbinding van die voormalige beheerraad deur die skenker onttrek is. Die skenking sou gaan vir die opgradering van badkamers. Inwoners meen die deure word nou in vrywilligers, skenkers, verskaffers en plaaslike rolspelers se gesig toegeklap. “Dit pas nie by die karakter van ‘n welsynsorganisasie nie. Welwillendheid word nie maklik herstel as dit eers verlore gegaan het nie en dit is wat ons wil vermy,” voeg sy by.

Die MGA versoek onder meer die verkiesing van ‘n beheerraad vir Aandskemering, asook ‘n forensiese ondersoek omdat die aksiegroep wil sien hoe geld bestuur en bestee word.

Volgens Meintjies het die beheerraad nooit ontbind nie, maar bestaan steeds.

Dit het intussen aan die lig gekom dat fooie vir inwoners van April af met 9% styg. “Dit kan lei tot verdubbeling van losiesgelde binne sewe jaar en is glad nie bekostigbaar vir die meeste van die inwoners en hul [familie] nie,” sê die groep in hul verklaring. Die jaarlikse verhoging word volgens Meintjies deur die beheerliggaam bepaal as deel van die begrotingsproses en word gegrond op die koste om die diens te lewer.

Huis Thea van Niekerk, ‘n anneks van Aandskemering en waarvan die bestaan destyds deur skenkers juis vir beskostigbare verblyf vir bejaardes met dimensie en Alzheimer se siekte moontlik gemaak is, is ook onder die loep. Inligting dat ‘n aparte registrasie vir die tehuis glo gedoen word wat tot die kansellasie van hul subsidie kan lei, het intussen na vore gekom. Bewerings dat die tehuis in woonstelle omgeskep gaan word en uiteindelik onbekostigbaar sal wees vir die huidige pasiënte wat daar woon, doen tans die ronde. Meintjies het die bewerings ontken en gesê hulle is nie bewus daarvan nie.

OOR 119 JAAR OPGEBOU

“Baie van ons voorgangers en ouers wat tans inwoners van Aandskemering en Amandelrug-aftreeoord is, het bygedra tot die bates wat oor 119 jaar in die ACVV-tak opgebou en tot stand gebring is. Die MGA is verontrus oor die huidige verwikkelinge sonder om die gemeenskap van Malmesbury hieroor in te lig en is verbind tot rentmeesterskap van die huidige bates en geld,” lui die aksiegroep se verklaring verder.

Meintjies het die bewerings dat die ACVV die plaaslike gemeenskap vervreem en nie deursigtig is nie, as teleurstellend beskryf aangesien die ACVV graag met rolspelers in diens van die gemeenskap wil saamwerk. “Die ACVV is ‘n organisasie sonder winsoogmerk, wat uitsluitlik deur vrywilligers bestuur word met die doelwit om ‘n welsynsdiens te lewer.” Sy voeg by om deursigtigheid en gesonde korporatiewe bestuur te verseker, word gereelde bestuursvergaderings gehou en volgens die ACVV se grondwet, beleide en praktykkodes gewerk asook die wetlike praktyke soos voorgeskryf deur die NPO-wetgewing en die betrokke departemente waar nodig.

“Die werklikheid is dat ons afhanklik is van die toewyding van individue wat hul eie tyd, energie en dikwels persoonlike hulpbronne opoffer om die bedrywighede te bestuur.”

Die ACVV vra dat die gemeenskap hul hand vat. “Verskeie pogings is van stapel gestuur om lede en vrywilligers te werf wat die ideale van die ACVV onderskryf. Ons moedig alle belangstellendes aan om die proses te volg om as lid aan te sluit en deel te word van ‘n netwerk toegewyde individue wat werklik ‘n verskil in hulle gemeenskappe maak.”

Lucia Smuts, die nasionale bestuurder vir ouer mense, sê die departement sal op die regte tyd terugvoer gee.

‘n Ondersoek na klagtes oor beweerde wanbestuur en onreëlmatighede by die Aandskemering-tehuis vir bejaardes is deur die departement van maatskaplike ontwikkeling van stapel gestuur. Foto: Charlotte Lesch

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article