Ek vermoed daar’s ’n knoppie in my brein wat verkeerd-om ingeskroef is (dalk is daar ’n paar sulkes!), want sodra die internasionale bewusmakingskalender aandui dat Oktober die maand is om wêreldwyd allergiebewusmakingsdag te “vier”, sien ek in my geestesoog hoe honderde mense jeuk en krap en glad nie hul hande kan tuishou nie.
Op dieselfde manier laat Oktobermaand se wêreldmenopause- en wêreld-artritisdag die verkeerdomgedraaide skroefies in my kop kliphard werk. Dit voel vir my as jy op ’n onomkeerbare mediese toestand fokus, sal jy behoorlik al daardie simptome op daardie dag voluit ervaar – amper soos ‘a crash course in suffering’.
Gelukkig is daar altyd ’n klompie intelligente mense wat hard daaraan werk om internasionale fokusdae op ’n praktiese manier vir die publiek “verteerbaar” te maak.
Slim leiers weet hoe om nuwe inligting saam met die fokus op en bewusmaking vir ’n saak by die publiek tuis te bring – soos byvoorbeeld rugby- en krieketspelers wat in poeierpienk klere uitstap vir ’n kragmeting ter bewusmaking van vrouekanker. En mans wat Novembermaande snorre kweek om die fokus op manskanker te plaas en hoe belangrik jaarlikse gesondheidsondersoeke vir mans is.
Daar moet nog baie hard gewerk word daaraan om die konsep van bewusmaking oor baie soorte mediese uitdagings uit te brei, sodat gewone mense beter kan verstaan hoe die fokus op belangrike sake begrip aanwakker – en mense op daardie manier aanmoedig om ’n goeie saak te ondersteun.
Presies dit het gebeur sedert Ithemba Trust begin het om onder meer Oktobermaand- staptogte buite Stellenbosch te reël ter erkenning aan Oktober se fokus op mense wat depressie moet hanteer. Geleidelik, omdat ’n mens gereeld kennisgewings hieroor sien en getuienisse lees oor hoeveel hierdie tipe saamstaan mense ondersteun, groei ons begrip van mense met geestesprobleme.
Intelligente, praktiese planne ter bewusmaking van sekere situasies verdien bewondering; soos die suiwelbesigheid Fair Cape, wat hierdie Oktober hul tweeliter-melkbottels met pienk logo’s die wêreld in stuur om borskankerbewusmaking te bevorder. En nee, hulle misbruik nie hierdie projek om hul verkope potensieel te verhoog nie – op die facebookblad Project Flamingo lees ons hoe help Fair Cape-skenkings dat talle vroue met borskanker en wie se name op lang staatshospitaallyste beland, operasies daarvoor in Wes-Kaapse hospitale kan kry. Saam met broodnodige skenkings en mediese personeel wat in hul vrye tyd hierdie operasies aanpak, word die groot getal agterstallige vroue-operasies in staatshospitale aangedurf.
Hierdie mediese personeellede bewys opnuut ’n mens het nie altyd geld nodig om bewusmaking te kweek nie.
As jy dalk tydens Oktober as ’n maand vir bejaardes ’n ouetehuis of eensame bejaarde besoek, neem jy dalk eetgoed, blomme of ander bederwe saam. Maar, as jy tyd maak om lekker met ’n bejaarde persoon te gesels, en agterkom hoeveel liefde, lewenswysheid en humor daar by baie van hulle uitstraal, sal jy sowaar nie leëhand huis toe gaan nie, want ’n positiewe, lewensblye senior burger is een van die lewe se heel mooiste geskenke.




