Die wenner van die potjiekoskompetisie, ’n eerste vir vanjaar se Oesland Basaar, aangebied deur die Swartland NG gemeente, was Lampies Lambrechts. By hom staan sy spanmaat, sy vrou, Elmarie Lambrechts, wat deur die beoordelaar Karen Els (middel) gelukgewens word. Els, die wenner van die 2023- Kokkedoor- Vuur en Vlam-reeks, het die potjiekoskompetisie saam met Johan Beukes, Dirk Smit (Sasko-hoofborg) en Esther Smit (Sasko-hoofborg) beoordeel. Foto: Inecke Jonker van Inecke Photography


Die Swartland NG gemeente se Oesland Basaar was vanjaar ’n wegholsukses, het die hooforganiseerder, Henlie Viola, van Malmesbury bevestig.

“ ’n Mens kan glad nie vanjaar se Oesland Basaar met vorige jare vergelyk nie. Die aanslag was heeltemal anders. Ons is baie dankbaar; alle eer aan die Here,” voeg ’n dankbare Viola by.

Die potjiekoskompetisie was vanjaar ook ’n eerste vir die basaar. Altesaam sewe spanne het ingeskryf en die afgelope Saterdag hul vernuf om ’n pot na die tafel gebring. Die potte het behoorlik geprut soos op die Swartland NG-moedergemeente se kerkterrein gewoeker is. Hoewel die aantal voete wat vanjaar se basaar bygewoon het, nog nie teen druktyd bevestig kon word nie, dui die syfers ’n groot sukses aan, het Viola gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article