Die kanola blom met die son wat ná ’n nat winterseisoen sy kop behoorlik begin uitsteek het.


’n Positiewe gemoed onder landbouprodusente was die afgelope Donderdag gedurende die jaarlikse byeenkoms van die Swartland- kleingraan-ontwikkelingsgroep (Skog) aan die orde van die dag aangesien die potensiaal in vanjaar se graanoes wesenlik is.

Volgens die Skog-bestuurder, Gert Conradie, het die inligtingsdag die tweede meeste besoekers en produsente sedert sy bestaan in 1991 gelok.

Gaste het die geleentheid gekry om sowat 17 aanbiedinge op die Langgewens-navorsingsplaas buite Moorreesburg by te woon terwyl proewe besigtig kon word.

Produsente is dit eens dat toestande oral nat is, maar dat hul graan en veral hul koring baie potensiaal vir ’n gemiddelde tot bo-gemiddelde oes toon.

Pieter Burger van Syngenta het saamgestem dat produsente tevrede is met hoe hul graan lyk.

Volgens hom is swamme in die Swartland ook nog onder beheer. “Die swamdruk het nie so erg uitgekom nie, hoewel witroes in die koring in die omgewing van Darling gewaar is.

Hy voeg by dat siektes vanjaar eerder in die Suid-Kaap onder veral garsprodusente hoogty vier. “As dit nou warm gaan raak, kan die swamme uitdop. Die insekdruk gaan ook vinnig kom sodra dit warm raak, omdat dit nou lank koud, bewolk en nat was.”

Vir Andries Theron van die Proteïennavorsingstigting, wat self op Moorreesburg boer, lyk die graan in die Swartland in die algemeen baie mooi. “Darling is baie nat, maar verder is die koring mooi.” Volgens hom het elke oesjaar sy uitdagings, maar hy is optimisties. “Ek dink steeds jou kanse vir ’n goeie oes in ’n nat jaar is beter as in ’n droër jaar,” bevestig hy weer.

Theron voeg by dat sekere geplante gebiede weens die nat toestande wel afgeskryf gaan word, maar die meeste graan behoort te herstel namate die weer warmer word.

“Ons groot uitdaging gaan wees om genoeg vog teen omtrent die einde van September te kry,” het hy benadruk.

Theron is ook nie te bekommerd oor die kanola-aanplantings nie. “Kanola is weer een van daardie wondergewasse. Hy het die vermoë om te herstel. Ons gaan aangenaam verras wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article