Die twee werkers wat op 10 Junie ernstige beserings gedurende ’n ontploffing by die pluimveegroep Quantum Foods se plaaslike Nova Voere-aanleg in Malmesbury opgedoen het, sterk ná meer as ’n maand in die hospitaal steeds aan.
Die ontploffing het volgens ’n verklaring deur die Swartland-munisipaliteit in ’n laaisone, waar rou materiaal afgelaai word, plaasgevind.
Drie werknemers is gedurende die ontploffing beseer en vir onder meer ernstige brandwonde na die Malmesbury-hospitaal geneem.
Een van die werkers, Ncebazakhe Tshisa (25) het nog dieselfde aand van die voorval in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Volgens Adel van der Merwe, uitvoerende hoof van Nova Voere, het Fikizolo Mbulelo (37) en Motgahla Feentseng (45) weens die aard van hul beserings nog nie teruggekeer werk toe nie. “Die twee beseerde mans is nog nie uit die hospitaal ontslaan nie, hoewel al twee se toestand al verbeter het.”
Die slagoffers is die volgende dag (op 11 Junie) na onderskeidelik die Tygerberg- en Christiaan Barnard-hospitale oorgeplaas. Volgens Van Der Merwe is Mbulelo en Feentseng intussen na ’n algemene saal oorgeplaas.
Sy het verder bevestig dat die ondersoek na die oorsaak van die ontploffing voortduur. “Ongelukkig is die ondersoeke nog nie afgehandel nie; daarom kan ons nie enige inligting rakende die voorval bekend maak nie,” het Van der Merwe op navraag bygevoeg.
Die maatskappy het ’n ingenieur gekontrakteer om ’n onafhanklike ondersoek na die voorval te doen.



