Jana ScheepersH.Venter Primêre Skool in Ashton het die uitstekende nuus ontvang dat sy o.12-netbalspan aan die Suid-Afrikaanse netbalkampioenskap in Boksburg gaan deelneem nadat hulle in die onlangse Wes-Kaap-proewe skoonskip gemaak het.
Die kampioenskap word van 8 tot 10 Augustus gehou.
Bria Jones, ’n gr. 2-onderwyser en die skool se netbalafrigter, het telefonies aan die Gazette gesê dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat hul netbalmeisies só presteer.
Volgens haar is dit ook die enigste span in die streek waarin H. Venter Primêre Skool val wat aan die Suid-Afrikaanse netbalkampioenskap gaan deelneem.
“Die meisies is baie opgewonde – veral om op die vliegtuig te klim en die eerste keer te vlieg,” het Jones laggend gesê en verduidelik sy sal haar storie moet ken om na agt opgewonde meisies in Boksburg om te sien.
Jones is uit en uit ’n netballiefhebber en volgens haar het sy tot op universiteit netbal gespeel, waarna sy toe die posisie as afgrigter aanvaar het.
Sy het in Oktober 2022 by die H. Venter Primêre Skool aangesluit, en dadelik by die skool se netbalafrigting betrokke geraak.
En wat is dié talentvolle afrigter se resep vir sukses? “Ek luister na almal [se raad] en leer baie [daaruit],” het sy gesê. . Die skool doen ’n beroep op die gemeenskap om die netbalmeisies by te staan deur finansiële bydraes beskikbaar te stel. Navrae hieroor kan aan die skool se ontvangs gerig word by 023 615 1530 of by Jones by 083 471 2703.





