Een baan sal vir verkeer gesluit wees terwyl opgraderings aan die padoppervlakte gedoen word.


Die N7-snelweg by die R45-aansluiting buite Malmesbury sal vir die volgende 15 dae gedeeltelik gesluit wees.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) het by monde van sy projekbestuurder, Bongani Masombuka in ’n verklaring gesê tydelike herstelwerk sal tussen 11 en 26 September plaasvind maar dat een baan oop sal bly “sodat motoriste vir die tydperk so min as moontlik ontwrig word”.

Die werk wat gedoen word sluit onder meer in dat ’n nuwe beton vesellaag gelê word om die krake en spatsels te herstel en verwyder.

SANRAL het ’n versoek op motoriste gedoen om waaksaam te wees, hul spoed te verminder en alle waarskuwingstekens in ag te neem wanneer hulle hier ry. “Wees ten alle tye op die uitkyk vir konstruksiewerkers,” het Masombuka bygevoeg.

SANRAL vra om verskoning vir enige ongerief wat weens die nodige opgraderingswerk veroorsaak gaan word.

“Die korttermyn verbeterings is belangrik vir langtermyn padveiligheid waarby alle motoriste in die toekoms sal baatvind.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article