’n Spinnekop – só groot dat hy liniaallengte bereik en soms voëltjies eet – ’n gogga wat vernoem is na een van die wêreldbestes in manstennis, die gebruik dat swanger Spaanse ma’s ’n babaklokkie dra – sodat almal kan hoor wanneer Baba nog voor sy geboorte skoplustig raak – en ’n nasionale polisieminister wat – nadat Suid-Afrikaners reeds jare lank met Eskom se duisternisse sukkel – die wysheid openbaar om te verklaar dat beurtkrag gepaard gaan met hoër misdaadsyfers.
Die stories wat ons deesdae hoor, beklemtoon opnuut: Feite ís vreemder as fiksie. En: Papier is geduldig, het my oupa graag gesê, nog lank voordat Google en internetsoektogte moontlik was.
Die Goliat-voëlvreter is ’n tarantula-spesie en leef in die noordelike dele van Suid-Amerika. Sy lyfgedeelte rek gereeld tot ’n indrukwekkende 13 cm. Wyfies lê 100 tot 200 eiers en word lag-lag (of al vretend) 25 jaar oud, terwyl mannetjies selde langer as ses jaar leef.
As jou voete nog nie opgetrek is tot op jou stoel nie – hierdie Theraphosa blondi met sy harige lyf se monddele word 2 tot 4 cm lank. Hul ‘tande’ is sterk genoeg om deur die menslike vel te byt. Toemaar – hulle byt slegs uit selfverdediging en is nie dodelik giftig nie (wil enigiemand die waarheid hiervan uittoets?)
Goliat-voëlvreters eet selde hul prooi daar waar ander hulle kan sien. Hulle sal eerder hul kos (muise, paddas, akkedisse en periodiek ’n slang) insleep in hul skuilplek en verpulp dan die prooi se binnegoed tot ’n vloeistof voordat hulle dit alles leegsuig.
Dan kry ’n mens vreemde wesens wat Theraphosa blondi as troeteldiere aanhou.
Die wêreld het in Mei 2017 agtergekom Nederland se koning Willem-Alexander lei ’n geheime lewe – hy is ook ’n aktiewe personeellid van die Nederlandse lugdiens KLM. “As ek nie koninklike verpligtinge gehad het nie, sou ek dolgraag Boeing 747’s wou vlieg,” het hy destyds gesê oor sy stokperdjie om twee keer per week die loods vir die Cityhopper’s Fokker 70 te wees.
Vandat KLM in 2017 sy Fokker 70-vlugte opgeskort het, het koning Willem-Alexander begin om Boeing 737’s baas te raak. Hierdie sportliefhebber wat nie net sy koninklike rol suksesvol hanteer nie, maar ook in sy jong dae ’n 200 km lange fiets-uithourit en in 1992 die New York-marathon voltooi het, het vir beide sportbyeenkomste onder ’n minderbekende familienaam van die Huis van Oranje as W. A. van Buren ingeskryf.
Toe Willem-Alexander in 2013 as 46-jarige die troon as koning bestyg, was hy Europa se jongste monarg.
Nou wonder ek wat sou my oupa – en Novak Djokovic – sê van die Serwiese navorser Nikola Vesovic se besluit om ’n grondkewer na die Serwiese tennisster te vernoem – ’n GOAT-speler en wenner van 21 grand slams: “Novak Djokovic het baie vir ons land gedoen; ons voel verplig om iets terug vir hom te doen,” het Vesovic gesê. “Die oorlewingsvermoë van hierdie kewer, sy spoed, krag, aanpasbaarheid en langlewendheid in ’n moeilike omgewing, herinner ons aan Djokovic. Daarom noem ons hierdie kewer graag Duvalius Djokovici.”





