Muneerah het oor die jare heen honderde samoesas en pasteie gebak om die pot aan die kook te hou. Foto: Sarie Nell


Muneerah Allie van Malmesbury staan reeds dekades lank reg om partytjies en skoolkermisse met haar tuisgebak op te kikker. Sy vertel aan Gazette hoe dit gebeur het dat samoesas, pasteie, pauper bites in vier geure en kerrie en rys haar bron van inkomste geraak het.

“Ek moes ná my egskeiding begin bak sodat ek my vier jong kinders kon versorg. Dit was hárde werk – veral toe ek destyds nog self die samoesa- en pasteideeg gemaak het. Vier tot vyf werkers moes altyd hier kom help.

“Sommige dae het ons soveel gebak dat die oliestrepe teen die kombuismure afloop, want wat is ’n partytjie sonder samoesas! Maar deesdae is dinge makliker, want ek koop deeg uit die stad en dit kom lekker vars by my aan.

“Op 69 wil my kinders nie meer hê ek moet so hard werk nie.”

Sy geniet die kontak met mense wie sy nie andersins sou leer ken het nie: “Ek het vir Suster Hannie Steyn se Annamart van laerskooldae af gebak vir skoolverkope, so ook vir Marinel Theron se kinders. Plus die formele ooreenkoms met dr. Winnie-May van Niekerk: Ek mag eers aftree wanneer Van Niekerk se jongste kind klaarmaak met skool!”

Teen Muneerah se sitkamermure pryk geraamde muurprente: Letters wat met goue gare op gitswart materiaal geborduur is. “Dis die seënwoorde waarmee ons geloof se mense mekaar groet,” verduidelik sy.

Geskiedenis

Intussen trek haar mooi glasware en die plante waarvoor sy so lief is, ook die oog.

“Ek is die derde van agt kinders. Ons was vier seuns en vier dogters. My pa en sy vier Alliebroers het vrugte, groente en hoendervleis in die dorp verkoop. Vroeër jare het ons familie ’n groentewinkel in Voortrekkerstraat gehad, maar in 1972 moes ons hele gesin uit St. Johnstraat na Jakarandastraat trek.

“Toe ek standerd vyf was, het my pa my gedwing om skool te verlaat. Die skoolhoof by Liebenberg Primêr het probeer kéér; hy’t vir my pa vertel ek is sy beste wiskunde-kind. Maar daar was geen genade nie; ek moes my sieklike ma help versorg.

“Toe maak my pa van my ’n boekhouer. Hy’t ’n sideline met verkope gehad en ek moes daarmee help.”

Muneerah se gesprekke getuig van sagmoedigheid en lewenswysheid; van entrepreneurskap. En ’n glashelder brein.

Saterdagoggende vroeg tree Muneerah, haar kerriekos en room-doughnuts by Malmesbury se vlooimark aan, naby die onderste Pep Stores. Tussen die verkope deur geniet sy al die stories oor kennisse se wel en weë. Dis ook waar sy uit jammerte dit soms waag om kos op skuld te verkoop. Saterdagmiddae kom sy doodmoeg, maar baie gelukkig, terug by die huis.

“My kinders sê graag ‘Mammie is heelweek siek, maar Saterdae op vlooimarkdag makeer Mammie niks!’ ”

Tog waardeer sy haar finansiële selfstandigheid. “Dis lekker om my eie sente in my hand te hê.”

Een van haar broers is tydens die pandemie oorlede. “Van ons agt kinders is drie oorlede. Ek en my susters maak beurte om gasvrou te wees, dan eet ons een keer per maand saam ontbyt.”

Familie

Muneerah beduie met haar besondere klein hande en vertel van haar oorlede seun, haar drie dogters wat mooi na haar omsien, en van haar broer wat gereeld sy susters bederf. “Onlangs het hy ons almal Goudini Spa toe geneem, en in 2005 het hy betaal sodat ek Mekka toe kon gaan.

“Mekka was soos iets uit ’n boek,” onthou sy. “Elke dag ’n nuwe hoofstuk, iets baie wonderliks. Ons familie gee regtig om vir mekaar.” Voordat ’n familielid Mekka toe gaan, hou die familie ’n ‘greeting’; wanneer hulle terugkom, skink hulle vir almal wat tuisgebly het, van die heilige Mekkawater in spesiale Mekka-glasies. Eers sit sy die glasies op ’n spesifieke reghoekige skinkbordjie, dan bid almal saam voordat hulle van hierdie water drink.

“Ek het so baie om voor dankbaar te wees – ek is gesond en my dogters en familie gee om vir my.

“Verder leef Malmesbury se mense soos een groot familie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article