Lede van die Moorreesburg-polisiekantoor het op talle verdagtes toegeslaan wat by verskeie misdadige aktiwiteite betrek word.
Die misdade sluit onder meer rooftogte, oortreding van ’n beskermingsbevel, diefstal, aanranding en die besit van onwettige vuurwapens en dwelms in.
Volgens AO Nicolette Visagie, ’n polisiewoordvoerder, is die verdagtes tussen die ouderdom van 18 en 49 jaar op 9 Julie en ook op 17 Julie in die omgewing in hegtenis geneem.
Die Moorreesburg-polisie moedig inwoners aan om meer bewus te wees van misdadige aktiwiteite wat in hul midde plaasvind.
“Wees altyd bewus van die gevaar van misdaad – loop in goed beligte gebiede of besige strate en in groepe, indien moontlik,” voeg sy by.
Die polisie doen verder ’n beroep op inwoners om seker te maak hul huise is gesluit en met die nodige veiligheidsmaatreëls toegerus. “Maak seker julle ken die noodnommers of het dit byderhand, dink twee keer voordat jy jou planne op sosiale media verkondig en stel jou bure en jou naastes in kennis wanneer jy die huis verlaat,” waarsku Visagie.





