’n Moordverdagte is nog op vrye voet nadat ’n man Saterdagaand op ’n plaas buite Darling noodlottig met ’n mes gesteek is.
Die polisie van Darling het Saterdag omstreeks 20:00 inligting ontvang rakende ’n moord wat op die plaas Eveningstraat tussen Darling en Malmesbury plaasgevind het.
Die polisie het die slagoffer by die voordeur van ’n huis aangetref.
Getuies het die moordverdagte uitgeken wat voor die polisie se aankoms gevlug het. Die verdagte se meisie, wat ook ’n getuie tot die moord was, het saam met die verdagte gevlug. Volgens omstanders het die verdagte en die slagoffer as kamermaats saam op die plaas Gemsbokkuil gewoon.
’n Rusie het na bewering tussen die verdagte en nog iemand binne die huis plaasgevind, terwyl die slagoffer buite met sy rug na die deur gesit het. Die verdagte het daarna glo by die huis uitgegaan en die slagoffer met die mes in die nek gesteek.


